Die byvoeglike naamwoord kritiek slaan op iets ernstigs of gevaarliks: die toestand van die beseerde is kritiek, iets is van deurslaggewende/kritieke belang, of (die) breekpunt is bereik [EERDER AS: kritieke punt] en die belangrikste [NIE: kritieke] vraag is…
Krities slaan op ʼn ingesteldheid: Iemand is krities oor/teenoor/jeens iets wanneer sy kritiek lewer op iets of mense kritiseer oor [NIE: vir] iets wat hulle gedoen het
kritiek
1 beoordeling van die waarde/gedrag van iets/iemand, veral deur te sê wat jy dink minder goed is: goeie/grondige/regverdige/sinvolle/wetenskaplike kritiek; positiewe/opbouende kritiek/ swak/negatiewe/afbrekende kritiek
2 afkeurende uiting: opsomming van gebreke: kritiek op/teen iets lewer; kritiek op iets uitoefen; sy kritiek is altyd gerig teen die skrywer eerder as teen die werk; die belangrikste kritiek teen sy werk is die ondeurdagtigheid daarvan
3 kuns om wetenskaplike/artistieke werk te beoordeel: literêre kritiek
as byvoeglike naamwoord:
1 vlak voor ʼn groot/ernstige beslissing, baie ernstig/gevaarlik: ʼn kritieke oomblik in ʼn land se geskiedenis; die sieke se toestand is kritiek
kritieke temperatuur temperatuur waarbo geen verskil meer bestaan tussen die vloeibare en gasvormige fase nie
krities
1 wat kritiek bevat/betref: ʼn kritiese beskouing van ʼn roman
2 met die vermoë/neiging om kritiek te lewer, skerp beoordelend: Kinders is baie krities; sy werp kritiese blikke na haar kollegas; ʼn werk krities beskou/benader; ʼn stuk krities lees; krities maar objektief na iets kyk
open to criticism blootgestel aan kritiek, vatbaar vir kritiek, kwetsbaar of aanvegbaar
benede alle kritiek nie werd om beoordeel te word nie; ellendig sleg; totaal onaanvaarbaar: Sy behandeling van sy ondergeskiktes is benede alle kritiek
Hierdie brokkie is gepubliseer in die boek: Skryf Afrikaans van A tot Z
Uitgewer: Pharos
Prys: R425-00*
* Prys onderhewig aan verandering