Taalgebruik: lei, ly

Argieffoto (Foto: Benjamin Sz-J./Pixabay)

Die woorde “lei” en “ly” klink dalk dieselfde, maar hul betekenisse verskil. Maak seker dat jy nie die verkeerde spelling gebruik nie!

lei
1 (a) ’n mens/dier êrens heen neem deur voor hom/haar uit te loop of hom/haar saggies in ’n bepaalde rigting te trek: ’n blinde lei • ’n ou dame aan die arm neem en haar oor die straat lei • ’n perd na water lei • Waarheen lei hierdie paadjie? ♦ (ook figuurlik): iemand in die versoeking lei.
(b) in ’n bepaalde rigting laat groei: Lei die ranke teen die muur op.
(c) in ’n bepaalde rigting laat vloei: water op die lande lei.
2 (a) aan die hoof staan van ’n maatskappy/organisasie/land/groep wat iets probeer doen; die leiding neem: Sy het die party twaalf jaar lank gelei. • Die kaptein het sy span na ’n oorwinning gelei. • ’n ondersoek lei • ’n leidende figuur. • die leidende gedagte.
(b) in beheer van iets wees: ’n bespreking/vergadering lei.
3 iets laat gebeur of iemand iets laat doen: Wat het tot die uitbreek van die oorlog gelei? • Jou wangedrag kan daartoe lei dat jy geskors word. • Al ons moeite het tot niks gelei nie.
4 wat betref jou tyd/lewe, dit voer/deurbring soos genoem: ’n woelige/bedrywige/rustige/sorgelose lewe lei.

ly
1 smart/pyn/skade ondervind; in ellende verkeer: ’n sieke wat in stilte ly • onder ’n diktator ly • ly onder vernedering.
2 ondervind; ondergaan: aan ’n siekte ly • honger/dors/vervolging ly • Eet en ly wat daarop volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.