Taalgebruik: marine, mariene

Mariene plante (Foto: pexels, Pixabay)

Dié woordpaar gee heel dikwels probleme, en as ’n mens kyk na hoe dit in standaardbronne opgeteken is, is dit ook nie verbasend nie. Die feit dat albei in Engels dieselfde gespel word, help ook nie juis nie.

Die maklikste is om te onthou dat mariene ’n byvoeglike naamwoord is wat “met betrekking tot die see” beteken, en omdat dit ’n byvoeglike naamwoord is, word hy los ge­skryf van die selfstandige naamwoord wat hy bepaal, byvoorbeeld mariene lewe, mariene organisme, mariene biologie en so meer. Dikwels kan mariene ook deur see= vervang word, byvoorbeeld mariene reservaat xseereservaat, mariene plant x seeplant, mariene pypleiding x seepypleiding. ’n Eselsbrug is dalk dat mariene twee e’s bevat, soos see.

Daarenteen het die selfstandige naamwoord marine met skepe en skeepvaart te doen. Die marine is “die (handels)vloot”. Om­dat marine ’n selfstandige naamwoord is, word hy vas geskryf aan die selfstandige naamwoord wat hy bepaal, byvoorbeeld marine­offisier, marine-ingenieurswese, marinetoerus­ting. ’n Eselsbrug is dalk die alleenstaande i soos in skip.

Woord: marine (militêr, weinig gebruiklik)
Betekenis:
seemag

Woord: mariene
Betekenis:

1 Van of eie aan die see, of wat daarvan afkomstig is, daarin voorkom, of daardeur gevorm of omring word: Mariene bronne, eilande, ekosisteme, fauna en flora, gebiede, sand en klei. ‘n Mariene habitat, klimaat, kusvlakte, omgewing. Mariene en atmosferiese omgewings.
2 Van of met betrekking tot die see of seelewe, veral wat betref die bestudering, bewaring of instandhouding daarvan: Mariene bewaring, geologie.
3 Wat verband hou met skeepvaart of maritieme aangeleenthede, of wat gebruik word ter see, of aangepas of spesiaal ontwerp is vir gebruik ter see: ‘n Mariene barometer, kompas.

BRON: Hierdie taalbrokkie is oorspronklik gepubliseer in die HAT Taalgids, beskikbaar op VivA Afrikaans.

Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) 6
Redakteurs: Jana Luther, Fred Pheiffer, Rufus H. Gouws
Uitgewer: Pearson
Prys: R490-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.