Taalgebruik: meer en mees

Argieffoto

meer of -er; mees of -ste
Deelwoorde wat as byvoeglike naamwoorde of bywoorde gebruik word, vorm die vergrotende trap met die bywoord meer, of met die agtervoegsel -er.
* oplettend – meer oplettend of oplettender
* sprankelend – meer sprankelend of sprankelender
* gekompliseerd – meer gekompliseerd of gekompliseerder
* toegewyd – meer toegewyd of toegewyder

Deelwoorde wat as byvoeglike naamwoorde of bywoorde gebruik word, vorm die oortreffende trap met die bywoord mees, of met die agtervoegsel -ste, en word meestal as ʼn frase saam met die bepaalde lidwoord die gebruik.
* oplettend – die mees oplettende of die oplettendste
* sprankelend – die mees sprankelende of die sprankelendste
* gekompliseerd – die mees gekompliseerde of die gekompliseerdste
* toegewyd – die mees toegewyde of die toegewydste

meer en mees
Byvoeglike naamwoorde en bywoorde wat op e eindig, vorm die vergrotende trap met die bywoord meer
* beskonke – meer beskonke
* verleë – meer verleë

Opmerking:
a) Hierdie reël geld slegs by byvoeglike naamwoorde waarvan die grondwoord op e eindig en nie by byvoeglike naamwoorde wat attributief gebruik word en daarom ʼn attributiewe –e gekry het nie. Die byvoeglike naamwoord oulik in die oulike klein hondjie se vergrotende trap is ouliker en nie meer oulik
b) Die vergrotende trap van byvoeglike naamwoorde en bywoorde wat op e eindig, is tradisioneel gevorm met behulp van die agtervoegsel -ner. Gevalle soos ervarener (teenoor die gebruikliker meer ervare) en onvolwassener (teenoor die gebruikliker meer onvolwasse), moet daarom nie as ʼn fout beskou word nie.

Byvoeglike naamwoorde en bywoorde wat op e eindig, vorm die oortreffende trap met behulp van die bywoord mees, en word meestal as ʼn frase saam met die bepaalde lidwoord die gebruik.
* beskonke – die mees beskonke
* verleë – die mees verleë

Opmerking:
a) Hierdie reël geld slegs by byvoeglike naamwoorde waarvan die grondwoord op e eindig en nie by byvoeglike naamwoorde wat attributief gebruik word en daarom ʼn attributiewe -e gekry het nie. Die byvoeglike naamwoord oulik in die oulike klein hondjie se oortreffende trap is die oulikste en nie die mees oulike
b) Die oortreffende trap van byvoeglike naamwoorde en bywoorde wat op e eindig, is tradisioneel gevorm met behulp van die agtervoegsel -nste. Gevalle soos die godvergetenste (teenoor die gebruikliker die mees godvergete) en die omstredenste (teenoor die gebruikliker die mees omstrede) moet daarom nie as ʼn fout beskou word nie.

Dié inligting is oorspronklik gepubliseer in die nuwe Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (11de omvattend herbewerkte uitgawe)
Uitgewer: Pharos
Prys: R450-00*
Koop die boek nou by Graffiti Boeke vir slegs R360-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.