Taalgebruik: ‘meet’

Argieffoto (Foto: Drew Hays/Unsplash)

Vanweë Afrikaans en Engels se gemeenskaplike oorsprong, is daar in die woordeskat van dié twee tale heelwat woorde waarvan die betekenisse grotendeels ooreenstem. Dit geld veral die oudste, Germaanse woorde in dié gedeelde woordeskat. Maar Engels en Afrikaans se paadjies het vroeg reeds geskei en intussen verskillende en uiteenlopende invloede beleef. Dít het semanties tot gevolg gehad dat die meeste Engelse woorde nie net ʼn enkele Afrikaanse ekwivalent het nie, maar met verskeie Afrikaanse woorde vertaal kan word, afhangende van die konteks.

Neem byvoorbeeld ʼn eenvoudige Engelse woord, soos “meet”. Vir die Engelse “meet” is die eerste Afrikaanse ekwivalent wat by ʼn mens opkom, dalk vergader, om ʼn bepaalde saak te bespreek. Maar “meet” kan in Afrikaans ook deur verskeie ander woorde vervang word. ʼn Mens kan iemand ontmoet of raakloop, byvoorbeeld op straat. Jy kan vir die eerste keer met iemand kennis maak. Paai kan bymekaar aansluit. Riviere kan bymekaarkom, saamloop, of saam– of ineenvloei. In die meetkunde sny lyne mekaar. Daar word aan voorwaardes, vereistes of ʼn vraag voldoen. Verpligtinge word nagekom. En so meer.

En is “meet”, andersom, die enigste Engelse vertaling vir Afrikaans se vergader? Nee. Ook nie. As ʼn groep mense op ʼn plein vergader, “gather” of “assemble” hulle in Engels, of hulle “come together”. Stof wat op Afrikaans in hoekies vergader, “collect, “accumulate” of “gather” daar in Engels.

Die gevaar bestaan dat waar ʼn minderheidstaal, soos Afrikaans, naas ʼn dominante wêreldtaal soos Engels bestaan, betekenisnuanses soos dié mettertyd in die gedrang kan kom en verlore kan raak. Gebruik dus daardie woordeboeke en tesourusse! In die woordeboekportaal van die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) is toegang tot die meeste van hulle gratis.

Bron: Die tale wat ons praat – taaldinge uit die gewilde radioprogram
Uitgewer: Penguin Random House
Prys: R230,00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.