Taalgebruik: opsoek, op soek

(Grafika: GraphicMama-team/Pixabay)

Hier is twee heeltemal verskillende konstruksies wat heeltemal verskillend gebruik word, en tog sien ’n mens dikwels dat die eerste een in plaas van die tweede gebruik word.

Die eerste een, opsoek, is ’n skeibare werkwoord wat in Afri­kaans veral beteken “ ’n besoek bring aan, op besoek gaan” en “naslaan”. Afhangende van die sin waarin dit gebruik word, word dit óf as een woord geskryf, óf as twee los woorde, maar dan kom die op ná die soek: Jy moet die woord in ʼn woordeboek opsoek; Jy kan die nommer in jou adreslys opsoek; Jy moet my opsoek as jy weer in ons dorp kom, hoor!; Kom soek my op as jy weer in ons dorp kom, hoor!; Vakansietye het ons altyd Pa se ou tante in die ouetehuis opgesoek.

Die ander konstruksie is ’n tipiese voorsetselkonstruksie waarin soek ’n selfstandige naamwoord is wat voorafgegaan word deur die voorsetsel op en gevolg word deur na, byvoorbeeld: Hulle is op soek na blyplek in die stad; Ek was juis op soek na ’n lekker boek om te lees toe ek dié een raakloop. In geen omstandighede kan op plus soek in hierdie konteks as een woord geskryf word nie.

opsoek
1 Iets naslaan, iets probeer opspoor deur dit te soek, bv. iets in ʼn woordeboek opsoek.
2 ʼn Besoek bring; kuier: Ek kom jou opsoek by julle nuwe woonplek by die see. Iemand se geselskap opsoek.
3 Kies as plek om die tyd te verwyl: Die koelte, skaduwee opsoek

op soek (na)
die speurder is op soek na nuwe leidrade; op soek na nuwe versekering?; op soek na lekker verblyf by die see?; ek is op soek na my sleutels.

Bron: HAT Taalgids

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae