Taalgebruik: rimpel

Argieffoto (Foto: Janeke88, Pixabay)

Woord:
rimpel
1 plooi/groef in die vel: ’n gesig vol rimpels • gerimpelde hande.
2 vou; kreukel: rimpels uit ’n rok stryk • ’n verlepte appel vol rimpels.
3 ligte golwing van water: ’n kalm see sonder rimpels.

Uitdrukkings
’n naam sonder vlek of rimpel
’n vlekkelose karakter (vgl. Ef. 5:27).

1a Ligte, uitkringende golwende aksie soos wat tipies in water of vloeistof ontstaan wanneer dit versteur word; sinoniem rippel; rimpeling (minder gebruiklik): Geen rimpel versteur die oppervlak van die kloofdam nie (Volksblad, 28 Februarie 2007, Kontrei, 3). Dikwels kring rimpels oor die watervlak as ‘n krokodil deur die geklap van die spane gesteur word en die water inspat (W. v. Riet: Stroom Af, 1966, 120). As die wind waai, kom daar rimpels op die water in die vywer (E. Spence: Kaleidoskoop, 1970, 38).

b (minder gebruiklik) RIMPELEFFEK: Ondersteuning deur die breë media sal die veldtog se slaankrag verhoog en die rimpel wyer laat uitkring (Burger, 15 Jul. 2006, 15).

2 (elektrisiteit) Ligte fluktuasie in die intensiteit van ʼn elektriese stroom: Die generatorlewering (bevat) baie min rimpel (R.D. Bingham, vert.: Bas. Elektr. V, 1973, 5.17).

3a Plooi veral in die gesig; sinoniem kreukel (minder gebruiklik), rimpeling (minder gebruiklik), ritteling (ongewoon): Die jong man glimlag en daar is fyn rimpels om sy wakker oë (M. Fouché in Landbouweekblad, 15 Nov. 1966, 80). Om (sy) dun, smal mondjie wil net ‘n rimpeltjie van ‘n laggie wees (J. Fick: Voortrekkers, 1939, 5).

b i Groef, plooi, bolronde kromming of vorm wat aan ʼn golf laat dink; sinoniem rimpeling (minder gebruiklik), ritteling (ongewoon): (ʼn) Rimpel… (kan) in ʼn stof ontstaan wanneer dit gestryk word (Son, 16 Maart 2007, 22). Nate (vorm) rimpels as die verkeerde tipe garing gebruik word (Boerdery S.A., April 1971, 66). Alle oppervlakke, met inbegrip van sweislasse, moet vry wees van invretings, diep krapmerke, skaal, rimpels, verbuigings en ander defekte (S.A.B.S. 8 — 1979, 179).

▪ Ook figuurlik: U en u gesinnetjie (is) nie sonder vlek of rimpel nie, ook maar gewone mense (Kerkbode, 9 Julie 1969, 60).

ii (plantkunde) Insnyding of geplooide deel in ʼn lob.

het gerimpel; rimpelende, rimpelend, gerimpelde, gerimpeld.

Rimpels vorm of kry, of rimpels laat kry; sinoniem rippel: Die ottervelstringe oor sy bors rimpel as hy, ‘n veteraan van die Koreaanse oorlog, verby ‘n vrou dans (Burger, 23 Junie 2006, 19). Waar die stert (v.d. buffel) nie bykom nie, rimpel die vel met vinnige bewegings om die lastige insekte te verjaag (Landbouweekblad, 24 Junie 2005, 92). Mexikaanse golwe het deur die paviljoene gerimpel en landsvlae is trots geswaai (Beeld, 17 Februarie 2003, 3). Sy gerimpelde gesig, die vel tot leer deur die son verskroei, vertel die storie (Volksblad, 21 Februarie 2007, 2).

Waar kom dit vandaan?
Uit Nederlands rimpel
Die Middelnederlandse vorm was rimpe en Nederlands rimpel het in die 16de eeu in gebruik gekom.

Dié inligting is beskikbaar op VivA se aanlyn-app. Besoek gerus die VivA-webblad of laai die gebruikersvriendelike slimfoontoepassing af (kyk in die iStore en op Google Play vir VivA-aanlyn)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.