Taalgebruik: s’n, sin

Argieffoto (Foto: Pixabay)

Ons s’n, die seun s’n, julle s’n. Gebruikers van Afrikaans skryf soms dié besitlike voornaamwoord verkeerdelik as “sin”.

Dit is twee heeltemal verskillende woorde wat niks met mekaar te doen het nie, al word hulle dieselfde uitgespreek.

S’n is ’n besitlike voornaamwoord en staan ná die selfstandige naamwoord of voornaamwoord ten opsigte waarvan dit die besit aandui; dit kan ook s’ne wees:

  • Die pantoffels is pa s’n(e), maar die knipmes oupa s’n.
  • Die boek is die biblioteek s’n.
  • Dié motor is ons s’n, maar daardie een is iemand anders s’n.

“S’n” word dus gebruik om besitlike voornaamwoorde te maak saam met woorde soos ons (ons s’n), u (u s’n), julle (julle s’n) en hulle (hulle s’n).

Die afkappingsteken word hier gebruik omdat die woord vroeër syn(e) was, maar dié spelling word selde nog in hedendaagse Afrikaans gebruik.

Daarenteen is sin ’n selfstandige naamwoord met verskeie betekenisse, byvoorbeeld:

  • “sintuig” (die vyf sinne)
  • “betekenis” (in die sinvan …) of “jou rede” (van jou sinne beroof wees)
  • “’n groep woorde wat ’n bepaalde ge­dagte uitdruk” (’n enkelvoudige sin) en so meer

Sy meervoud is sinne. Die uitspraak van s’ne en sinne is ook dieselfde.

Bron: HAT Taal-en-feitegids

  • Ter wille van die konteks van hierdie taaltoffie en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie taaltoffie op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.