Taalgebruik: studie(s)

kind_lees_bril.jpg

Argieffoto (Foto: Visionbeyond2020)

Afrikaanssprekers gebruik soms (verkeerdelik) die meervoud van studie wanneer hulle na die handeling van studeer verwys. Taalgebruikers van Afrikaans sal dus vir ʼn student vra: “Hoe gaan dit met jou studies?” of sê: “Sy het na jare lange studies haar graad verwerf.” Binne dié konteks (wanneer jy praat van iemand wat by ʼn onderwysinstelling studeer) is dit egter nie korrek om die meervoud te gebruik nie.

Voorbeelde waar slegs die enkelvoud gebruik word:

  • Voorspoed met jou studie!
  • My ouers betaal baie vir my studie.
  • Eie studie (Studie sonder die leiding van ’n dosent; selfstudie).
  • ’n Studie maak van iets (Jou op iets toelê; jou ten doel stel om meer van iets te wete te kom, dit te bestudeer, daaroor te leer).
  • Jou studie voortsit (Verder studeer; voortstudeer).

Dit is dus belangrik om te onderskei tussen studie en studie(s). Studie(s) (waar die enkelvoud en meervoud gebruik word) is korrek wanneer daar na sketse, tekeninge of stukke navorsing oor of ondersoeke na bepaalde sake verwys word: ʼn studie oor depressie; ʼn studie in B-Mol (musiek).

Voorbeelde waar die enkelvoud én meervoud gebruik word:

  • Beoefening van ’n vak aan ’n tersiêre instelling; die volg van ’n leergang: studies in moderne/klassieke tale, die wiskunde, sosiologie.
  • Wetenskaplike geskrif: ’n studie oor die plaasroman • ’n studie oor depressie.
  • Stuk musiek om te oefen: studies vir klavier deur beroemde komponiste.
  • Skets/tekening deur ’n skilder as oefening gemaak: Sy ateljee hang vol studies van diere.

Bronne: HAT, HAT Taalgids, Skryf Afrikaans A tot Z

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.