Taalgebruik: trouens, inteendeel

Argieffoto

Inteendeel word gebruik om dit wat direk daarvoor gesê is, volstrek te ontken of die teenoorgestelde daarvan te bevestig, byvoorbeeld: Ek het nie bedoel om jou te kwets nie; inteendeel, ek wou jou komplimenteer! of Skeer jy die gek met my? Nee, inteendeel!
Trouens, aan die ander kant, is ’n bevestigende woord. Dit word gebruik om iets te bekragtig of te versterk, byvoorbeeld: Dit is vroeër, en word trouens vandag nog, beskou as ’n baie waardevolle hout, of Ek gee nie om om alleen te bly nie; trouens, ek geniet dit soms.

Inteendeel

Betekenis:
In teenstelling met; daarteenoor, daarenteen: Hy is glad nie lui nie; inteendeel, hy is baie fluks. Hom verag! Nee, ek bewonder hom inteendeel. Dit was nie ʼn koue winter nie; inteendeel, dit was amper soos somer.

Verkeerde gebruik:
Inteendeel word foutiewelik gebruik waar geen werklike teenstelling bedoel word nie, slegs iets soos “andersheid”, bv. die vrugte is lekker soet; inteendeel, dit is sommer baie soet; hy het nie op die afgesproke tyd opgedaag nie maar inteendeel twee uur later. In baie van hierdie gevalle kan trouens eerder gebruik word.

Trouens

Betekenis:
om die waarheid te sê; tewens: Daar is geen waarborg dat kinders met onderskeidings naskools sal presteer nie – trouens, aan akademiese instellings is daar baie van hulle wat vakke druip. • Ek was verveeld; die hele gehoor het trouens gesit en gaap. • Hulle kon trouens niks anders doen nie. • Niemand het juis van ou Blas Bertie gehou nie. Hy het trouens amper geen maats gehad nie (John Miles).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.