Taalgebruik: Woorde wat dikwels verwar word

Argieffoto (happy-pregnancy.blogspot.com)

Woorde kan soms verwarrend wees as hulle na mekaar lyk, maar verskillende betekenisse het. Hier is enkele voorbeelde:

aaneen/aan een
Dit reën aaneen – ons gaan wegspoel!
Ek kon net aan een rede dink.
Ek gaan net aan een werk, jy kan aan die res werk.

aangaan/voortgaan
Daar staan so baie mense rond – ek wonder wat daar aangaan?
Die beseerde kan weer speel – julle kan weer voortgaan met die wedstryd.

aankondig/afkondig
Hulle gaan die naweek hul verlowing aankondig.
Sal jy asseblief afkondig dat die worsrolletjies nou halfprys is?

aanmeld/meld/vermeld
Almal wat wil deelneem, kan môre by my aanmeld.
In sy berig meld die joernalis dat daar gevegte in die noorde was.
Vermeld die verslag enigiets van die president?

aanmerking/opmerking
Ek het niks van jou nare aanmerking gehou nie.
Ná jou nuttige opmerking het ek die inleiding van die verslag verander.

aantal/getal
Dis moeilik om te skat of die aantal mense meer as ʼn duisend was.
Ons kan die getal besoekers in die besoekersboek kry.

afkeer/afkeur
Sy het ʼn afkeer van vertonerigheid. (Nie *afkeur nie)
Ek is bevrees ek moet die uitstappie afkeur as daar nie ʼn onderwyser by is nie.

Afrikaansonderwyser/Afrikaanse onderwyser
Ons Afrikaansonderwyser kon ons inspireer met sy voordrag van gedigte.
Gelukkig het ek ʼn Afrikaanse onderwyser vir wiskunde gehad.

andersins/andersyds
Daar is steeds min kos vir die vee in die veld weens die droogte; andersins hou ons kop bo water met die boerdery.
Die onderwyser is enersyds vervelig; andersyds ken hy die vak wel goed.

 

Hierdie inligting is oorspronklik in Pharos Afrikaansgids gepubliseer.
Skaf gerus dié gids aan:
Uitgewer: Pharos
Prys: R295-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek nou by Graffiti Boeke vir slegs R236-00

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.