Tel jou woorde: Wetenswaardighede oor die werkwoord I

Grafika: Mediamodifier/Pixabay

In die Afrikaanse skoolgrammatika (ASG), gratis toeganklik via ons webblad, het ons redelik baie aandag daaraan bestee om die werkwoord behoorlik te beskryf. Die rede daarvoor is tweeledig: Dit is ʼn baie groot klas; en dit is nodig om werkwoorde baie goed te begryp voor ʼn mens sinsontleding aanpak, want veral die identifikasie van sinsfunksies (wat deur die KABV vereis word), rus baie sterk op die korrekte klassifikasie van die werkwoord.

Omdat dit so ʼn groot woordklas is, maak ons eerder ʼn reeks daaroor as om al die inligting oor die woordsoort in een episode in te prop. Hierdie eerste aflewering handel oor die herkenning van werkwoorde in die sin, en die eerste groot onderskeid wat ʼn mens ten opsigte van werkwoorde moet kan maak: ʼn Mens moet kan bepaal watter werkwoorde in die sin hoofwerkwoorde en watter niehoofwerkwoorde is.

Hoe herken ʼn mens werkwoorde in ʼn sin?

Die definisie van die werkwoord wat in ASG gegee word, lui soos volg:

‘n Werkwoord is ‘n woord of frase wat ‘n statiese situasie (‘n toestand) of ‘n dinamiese situasie (handeling) binne ‘n bepaalde tyd uitdruk.

Daar is ʼn paar goed waarvan ʼn mens moet kennis neem: Wees bedag daarop dat werkwoorde nie net handelinge uitdruk nie, maar ook toestande. (Ek vermoed die definisies in skoolhandboeke leun ʼn bietjie swaar op die handeling-gedagte en sluit nie die toestand-gedagte in nie.) Dit beteken dat ʼn woord soos lyk in die volgende sin ʼn werkwoord is, al druk dit nie ʼn handeling uit nie:

  • Hy lyk

Nog ʼn eienskap van ʼn werkwoord, is dat dit aangewend word om tempus (Engels: tense) uit te druk. Hierdie eienskap is een van die maklikste maniere om te bevestig of ʼn woord ʼn werkwoord is of nie. As ʼn mens die voorbeeldsin hier bo sou omskakel na die verlede tyd, is die woorde wat gebruik word om die tyd te verander, almal werkwoorde:

  • Hy het moeg gelyk.

Die derde eienskap van werkwoorde is dat hulle in die spilposisie van die sin (kan) voorkom. In Afrikaans is die spilposisie tussen die onderwerp en die direkte voorwerp (die sogenaamde SVO-volgorde). In ʼn sin met net een werkwoord, staan die werkwoord in die spil. In ʼn sin met meer as een werkwoord, staan net een werkwoord in die spil, en die res skuif gewoonlik na die sinseinde (ʼn grammatikale beginsel waarmee tweedetaalsprekers gewoonlik probleme ondervind):

  • Hy [lyk]
  • Hy [het] moeg gelyk.
  • Hy [sou] moeg gelyk het.

Hoe herken ʼn mens hoofwerkwoorde in ʼn sin?

Die definisie wat in ASG vir hoofwerkwoorde gegee word, is dat dit werkwoorde is wat alleen in die sin (kan) optree. Die tegniek waarmee ons bepaal watter werkwoord ʼn hoofwerkwoord is en watter werkwoorde nie hoofwerkwoorde is nie, is die sogenaamde “uitrygproses”. Dit behels dat ʼn mens werkwoorde uit die sin weglaat tot jy met die laaste een oorbly wat die sin grammatikaal maak. Die werkwoorde wat jy kan weglaat, is niehoofwerkwoorde. As ʼn mens die volgorde van die voorbeeldsinne hier bo omruil, en ʼn mens laat telkens een van die werkwoorde weg, kan ʼn mens sien hoe die uitrygproses lyk:

  • Hy sou moeg gelyk het.
  • Hy het moeg gelyk.
  • Hy lyk

Die werkwoord waarmee ʼn mens in die spil oorbly nadat jy al die ander weggelaat het, is die hoofwerkwoord.

Die werkwoord wat ʼn mens nodig het om die sin grammatikaal te hou, is dus die hoofwerkwoord. In die voorbeeldsinne hier bo, is die werkwoord lyk die een wat die sin grammatikaal maak. Die ander kan ʼn mens weglaat, maar as ʼn mens lyk weglaat, bly ʼn mens met ʼn ongrammatikale konstruksie sit:

  • *Hy moeg.
  • *Hy het moeg.
  • *Hy sou moeg het.

Moontlike verwarring

Wees versigtig daarvoor om te dink dat ʼn bepaalde woord altyd ʼn bepaalde woordsoort is. Konteks is koning, het ons reeds gesê. Die volgende werkwoorde kan hoofwerkwoorde of niehoofwerkwoorde wees. Toets hulle eers aan die uitkenningstoetse hier bo voordat jy besluit watter een van die twee dit is:

  1. is (en was en word)

As is die enigste werkwoord in die sin is (of kan wees), is dit ʼn hoofwerkwoord. As dit saam met ander werkwoorde in ʼn sin optree, en dit is deel van ʼn passiefkonstruksie, is dit ʼn omskrywingshulpwerkwoord:

  • Hy is (hoofwerkwoord)
  • Hy is deur die polisie gearresteer. (gearresteer is die hoofwerkwoord; is is die omskrywingshulpwerkwoord)
  1. het

Die verlede tyd word in Afrikaans grootliks deur die toevoeging van die hulpwerkwoord van tyd (het) uitgedruk. ʼn Mens is dus geneig om te dink dat enige sin met het in die verlede tyd is, en dat het altyd ʼn niehoofwerkwoord is. Dit is nie waar nie – die woord het kan ook beteken ‘besit’, en dan is dit ʼn hoofwerkwoord:

  • Hy het pampoentjies. (hoofwerkwoord; enigste werkwoord in die sin)
  • Hy het huis toe gegaan. (niehoofwerkwoord; tree saam met ʼn ander hoofwerkwoord gegaan op)
  1. gaan

Dieselfde is waar vir gaan as vir het. Dit kan ʼn modale hulpwerkwoord wees wat moontlikheid/waarskynlikheid uitdruk, of dit kan ʼn hoofwerkwoord wees wat beteken ‘beweeg weg’. As dit alleen in die sin kan optree, is dit ʼn hoofwerkwoord:

  • Hy gaan dorp toe. (hoofwerkwoord; enigste werkwoord in die sin)
  • Hy gaan vir hom ʼn nuwe baadjie koop. (niehoofwerkwoord; tree saam met ʼn ander hoofwerkwoord koop op)
  1. skakelwerkwoorde

Die eienskap van skakelwerkwoorde (niehoofwerkwoorde wat in skakelkonstruksies saam met hoofwerkwoorde optree), is dat hulle soos hoofwerkwoorde lyk, maar nie die werkwoord is wat die sin grammatikaal maak nie:

  • Hy begin die skripsie met ʼn aanhaling. (hoofwerkwoord; enigste werkwoord in die sin)
  • Hy werk aan sy skripsie. (hoofwerkwoord; enigste werkwoord in die sin)
  • Hy begin aan sy skripsie werk. (niehoofwerkwoord; tree saam met ʼn ander hoofwerkwoord werk op)
  • *Hy begin aan sy skripsie. (het die ander werkwoord nodig om die sin grammatikaal te maak; in hierdie konteks ʼn direkte skakelwerkwoord)

Veral by indirekte skakelwerkwoorde (wat met en met die hoofwerkwoord verbind word), moet ʼn mens kophou. Die manier om hierdie skakelwerkwoorde te onderskei, is om die sin na die verlede tyd om te skakel. In ʼn skakelwerkwoordkonstruksie kry die hoofwerkwoord nie ʼn ge- nie. In ʼn komplekse sin met twee hoofwerkwoorde wat met en verbind word, kry albei werkwoorde ge-:

  • Hy sit in die klas. (hoofwerkwoord; enigste werkwoord in die sin)
  • Hy eet in die klas. (hoofwerkwoord; enigste werkwoord in die sin)
  • Hy sit en eet in die klas. (twee werkwoorde verbind met en)
  • Hy het in die klas gesit en eet. (slegs een werkwoord kry ge-; skakelwerkwoordkonstruksie met indirekte skakelwerkwoord sit en hoofwerkwoord eet)
  • Hy lag in die klas. (hoofwerkwoord; enigste werkwoord in die sin)
  • Hy eet in die klas. (hoofwerkwoord; enigste werkwoord in die sin)
  • Hy lag en eet in die klas. (twee werkwoorde verbind met en)
  • Hy het in die klas gelag en geëet. (albei werkwoorde kry ge-; twee hoofwerkwoorde lag en eet in ʼn komplekse newegeskikte sin)

In die volgende blog bespreek ek die verskillende soorte hoofwerkwoorde en hoe om hulle in sinne te herken.
VivA-groete
Sophia

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sylvia ·

Die woordjie “is” en “was” blyk ‘n tammeletjie te wees. Hy is gearresteer, maar hy was gearresteer op 3 November 2020, is dit korrek al dan nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.