Uit wie se mond hoor jy die waarheid?

(Foto: Charl Folscher/Unsplash)

Ek kry in die week ʼn navraag: Wat is die verskil tussen ʼn idioom en ʼn gesegde? Ek kan, tot my eie skande, nie uit die vuis uit antwoord nie, want (besef ek by nabetragting) ek het self nooit werklik gaan navorsing doen om te bepaal wat die verskille is nie. Toe ek dekades gelede op skool daarmee te doen gehad het, het ek net deur die lyste en lyste bousels in die handboek gelees met die vae hoop dat ek die een sal onthou wat hulle vir my in die eksamen gaan vra. (Ek hoef seker nie te sê dat dit nie ʼn vrugbare besteding van my tyd was nie. ʼn Mens leer ʼn taal se uitdrukkings aan as jy hom lees en hoor, nie as jy met ʼn handboek voor jou sit en goed soos ʼn papegaai memoriseer nie. Al wat dit doen, is om jou grimmig te maak teenoor die taal.)

Nietemin, dit beteken ek moes gaan nalees om ʼn sinvolle antwoord te formuleer. So lyk dit:

Wat is ʼn idioom?

Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) definieer die term idioom (Engels: idiom) soos volg:

Vaste uitdrukking, frase, gesegde van ‘n taal, wat eienaardig is óf ten opsigte van grammatikale bou óf in sy betekenis wat gewoonlik nie logies afgelei kan word van sy samestellende dele nie

Uit hierdie definisie lei ek drie goed af wat ʼn mens kan help om ʼn idioom te herken:

  1. Dit is ʼn vaste uitdrukking, met ander woorde, die woordorde is altyd dieselfde, en die woorde waaruit dit saamgestel is, gaan nie sommer afleidings of fleksie kan kry nie.
  2. Die bousel is op een of ander manier opvallend, hetsy ten opsigte van sy grammatikale bou, hetsy ten opsigte van betekenis.
  3. Die betekenis van die uitdrukking kan nie uit die betekenis van die woorde afgelei word nie.

Vir die Oxford Dictionary is hierdie laaste eienskap die onderskeidende een. So lyk hulle definisie vir die term idiom:

A group of words established by usage as having a meaning not deducible from those of the individual words

Met hierdie definisies as riglyn, kan ons bousels soos die volgende as idiome klassifiseer:

  • die aap uit die mou laat
  • te veel hooi op jou vurk hê
  • die kat aan die stert beethê
  • voet in die hoek sit
  • die dam onder die eend uitruk

Wat is ʼn vaste uitdrukking?

Die WAT span vaste uitdrukking (Engels: set phrase) in hulle definisie van die term idioom in (sien hier bo), maar ongelukkig is daar nie ʼn definisie vir vaste uitdrukking nie, want die inskrywings vir u is nog nie gedefinieer nie.

Die HAT se definisie lui so, maar is eintlik te vaag om te help:

frase met idiomatiese krag; segswyse

Die Oxford Dictionary is weer van meer waarde. Hulle definisie van set phrase klink so:

an unvarying phrase having a specific meaning, such as ‘raining cats and dogs’, or being the only context in which a word appears, for example ‘amends’ in ‘make amends’.

Uit hierdie definisie lei ek die volgende omtrent ʼn vaste uitdrukking af:

  1. Die woordorde is vas.
  2. Die bousel het ʼn vaste betekenis.
  3. In sommige vaste uitdrukkings kom daar woorde voor wat net in daardie konteks gebruik word.

Hiervolgens is alle idiome vaste uitdrukkings, maar nie alle vaste uitdrukkings is idiome nie. Idiome se onderskeidende eienskap is daardie onafleibare verband tussen die woorde en die betekenis van die uitdrukking.

Dit is dus moontlik om by vaste uitdrukkings idiome as voorbeelde aan te haal, maar ʼn mens kan ook uitdrukkings aanhaal met ʼn vaste skryfwyse waarvan ʼn mens wel die betekenis kan aflei of waarin daar woorde gebruik word wat ʼn mens nie in ʼn ander konteks sal gebruik nie:

  • iets teen die spoed van wit lig doen
  • met die rooi pen inlê
  • noustrop trek

Wat is ʼn gesegde?

Die WAT en HAT dui in hulle definisies van die term gesegde (Engels: saying) aan dat die terme spreekwoord, spreekwyse, segswyse en spreuk daarvoor sinonieme is, maar definieer nie die term verder nie. (Let op dat die term in die grammatikabeskrywing ʼn ander betekenis het as dit verwys na ʼn sintaktiese funksie.)

Die Oxford Dictionary help ons weer:

A short, pithy, commonly known expression which generally offers advice or wisdom.

Hieruit kan ons die volgende eienskappe van ʼn gesegde aflei:

  1. Dis kort en kragtig.
  2. Dis ʼn bekende bousel.
  3. Dit dra advies of lewenswysheid oor.

Ons kan weereens sê dat sommige idiome ook gesegdes kan wees, omdat heelwat idiome lewenswaarhede of lewenslesse oordra: haastige hond verbrand sy mond; fluks by die bak, lui by die vak. Maar daar is ook uitdrukkings wat wysheid of lewenslesse oordra waarvan ʼn mens die betekenis uit die woorde kan aflei. Dit is ook by sommige gesegdes moontlik om die woordorde effe te verander, wat beteken dat alle gesegdes ook nie noodwendig vaste uitdrukkings is nie:

  • As jy nie wil hoor nie, moet jy voel. (Kan byvoorbeeld word Jy wou nie hoor nie, nou moet jy maar voel.)
  • As jy jou uitgee vir ʼn toffie, moet jy bereid wees om gekou te word. (Kan byvoorbeeld word Hy het hom uitgegee vir ʼn toffie, nou moet hy maar vat wat hy kry.)

Wat is ʼn spreuk?

Ek het reeds hier bo aangedui dat die WAT en HAT die terme gesegde en spreuk min of meer as sinonieme beskou. Die WAT se definisie van spreuk (Engels: proverb; adage) dui dan ook die ooreenkomste aan:

Kernagtige spreekwoordelike uitdrukking wat veral ‘n lewenswysheid of vermaning oordra of uitdruk

Selfs die Oxford Dictionary se definisie van die term proverb stem baie ooreen met hulle definisie van saying (sien hier bo):

a short, well-known pithy saying, stating a general truth or piece of advice

Hieruit lei ek die volgende af omtrent spreuke:

  1. Dis kort.
  2. Dis ʼn bekende bousel.
  3. Dit bied lewenswysheid of ʼn vermaning.

Dis miskien daardie laaste element wat myns insiens van ʼn spreuk ʼn spreuk maak. Die bekendste skrywers (vir my) van spreuke – Salomo en Langenhoven – se skryfsels bevestig vir my ʼn spreuk se eiesoortigheid. Spreuke is bedoel as raad aan ʼn persoon wat nog met die situasie moet kennis maak en nie ʼn fout moet begaan nie. Daarteenoor is ʼn gesegde meer ʼn ding wat ʼn mens vir iemand sê wat klaar die fout gemaak het en dan moet troos met die wete dat ander mense ook al in dieselfde slaggat getrap het.

Maar goed, die laaste afleiding is dalk net myne. Hoe dit ook al sy, enige van Langenhoven se onvergeetlike spreuke kan as voorbeeld dien:

  • Maak staat op die raad van die man wat twyfel of dit reg is: die man wat nie twyfel nie het die saak maar van één kant af beskou.
  • Waardeer jou vrou soos die appel van jou oog. Dis nie ‘n geringe saak dat daar iemand is wat onderneem het om haar hele lewe met jou te verslyt nie.
  • Maak jou vriendelikheid goedkoop en hou jou vriendskap duur.

Tot slot

Soos dit seker uit bogenoemde blyk, is dit nie in alle gevalle moontlik om hierdie goed in netjiese boksies te verpak nie. Miskien is dit dan die belangrikste les wat ʼn mens hieruit moet leer: Moenie probeer nie. Neem kennis van die definisies en weet dat daar sulke goed bestaan, maar moenie jong taalaanleerders se tyd mors deur hulle definisies te laat leer nie.

Laat hulle liewer lees. Gee vir hulle Langenhoven, of André P Brink of Etienne van Heerden of PG du Plessis of Adam Small of Jaco Jacobs of Fanie Viljoen of Nathan Trantraal of Dan Sleigh of Koos Kombuis of Tryna du Toit of Ena Murray, en laat hulle self beleef hoe die taal in die hande van bekwame skrywers kan musiek maak.

Want taal is nie ʼn definisie nie, en dis nie ʼn lys nie. Dis woord en klank en bedoeling en spel, en wat kinders bo alles moet leer is dat taal, as ʼn mens dit reg aanwend, kan sing.

VivA-groete

Sophia

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.