Van paaie gepraat (of geskryf)

Argieffoto (Foto: Free-Photos/Pixabay)

Ek het hierdie week verskeie navrae oor die skryfwyse van straatname in Afrikaans gekry. Ek vermoed dit het dalk iets met die skoolkurrikulum te make, maar dis miskien goed om in ieder geval inligting oor die saak bymekaar te sit. Die konvensies en reëls wat hierop van toepassing is, is so ‘n bietjie verstrooi, selfs in die AWS, en dit is dalk nuttig om dit in een dokument byderhand te hou.

  1. Los of vas?

Die verwarring oor die los of vas skryf van straatname word veroorsaak of vererger deur die Engelse skryfwyses wat van dié van Afrikaans verskil. In Engels is die naamgedeelte en die aanduiding van die soort pad deurlopend los, ongeag die aard van die eerste deel van die verbinding:

Houston Avenue
Jamboree Lane
Dupont Circle
Rodeo Drive
First Street
5th Ave.

In Afrikaans skryf ons die straatname vas of los na gelang van die soort samestelling waarmee ons werk. Die AWS bereël die volgende soorte samestellings waarmee ons paaie benoem:

Eienaamwoord + soortnaamwoord

Dit is samestellings soos Roeland (eienaamwoord) + straat (soortnaamwoord) of Beyers Naudé (eienaamwoord) + rylaan (soortnaamwoord). Onder AWS 15.6 kan jy hierdie soort verbindings op een van vier maniere skryf:

  • Vas: Roelandstraat, Beyers Naudérylaan
  • Met ‘n koppelteken vas, soortnaamwoord met ‘n kleinletter: Roeland-straat, Beyers Naudé-rylaan
  • Met ‘n koppelteken vas, soortnaamwoord met ‘n hoofletter: Roeland-Straat, Beyers Naudé-Rylaan
  • Los, soortnaamwoord met ‘n hoofletter: Roeland Straat, Beyers Naudé Rylaan

Let op na die tweede voorbeeld in al hierdie gevalle. Sulke eiename wat uit meer as een woord bestaan, noem ons “multiwoordeiename”, en die reël daarvoor kry jy in AWS 15.7. Hierdie reël (wat nuut bygeskryf is in die 2017-uitgawe van die AWS) bepaal dat die spasies en hoofletters by multiwoordeiename behou word as die eienaamwoord in samestellings optree. Beyers Naudé gaan met ander woorde los geskryf word, met die hoofletters so behoue, ongeag hoe die rylaan bygesit word.

Soortnaamwoord + soortnaamwoord

Dit is verbindings soos kerk (soortnaamwoord) + straat of vyeboom (soortnaamwoord) + laan (soortnaamwoord). Dié soort verbindings word bereël deur AWS 15.6 (c). Hulle word net vas geskryf. As daar nie ‘n rede is vir die koppelteken (soos uitspraakverwarring) nie, word die koppelteken nie gebruik nie:

  • Kerkstraat; Vyeboomlaan 

Rangtelwoord + soortnaamwoord

Hierdie verbindings lyk so: derde (rangtelwoord) + laan (soortnaamwoord) of 3de (rangtelwoord, voorgestel deur ‘n syfer) + laan (soortnaamwoord). As jy die rangtelwoord uitskryf (AWS 15.35) kan jy die naam vas of los skryf (let op die hoofletter by die los vorm):

  • Derdelaan of Derde Laan
  • Een-en-twintigstelaan of Een-en-twintigste Laan

As jy die syfer gebruik om die rangtelwoord voor te stel (AWS 15.36), is dit net los (let weer op die hoofletter):

  • 3de Laan of 3e Laan
  1. Die straatnommer

Die straatnommer word in Engels voor die straatnaam geskryf:

  • 8 Lucas Place
  • 9087 5th Ave.

In Afrikaans word die straatnommer ná die straatnaam geskryf. Daar is altyd ʼn spasie tussen die straatnaam en die straatnommer:

  • Kerkstraat 19
  • 7de Laan 516
  1. Die straattipes

Hierdie lys vertalings vir die soorte strate, paaie en padverwante konstruksies kom moontlik handig te pas:

VivA-groete
Sophia

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Rubrieke, Taalgebruik

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peet Schabort ·

Dankie Sophia, so bly ons op die regte pad met ons taal.?????

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.