Werk wou hy nie

Ek wou bosbouer word… maar ek kon nie agter die kap van die byl kom nie.

Ek wou busdrywer word… maar ek kon nie my draai kry nie.

Ek wou dokter word… maar ek het my bloedtoets gedop.

Ek wou fynproewer word… maar ek het my mond verbrand.

Ek wou grafgrawer word… maar ek het spit in my rug gekry.

Ek wou haarkapper word… maar ek is in die pad gesteek omdat ek te veel golwe gemaak het.

Ek wou lemoenboer word… maar ek kon nie die pitte bymekaar kry nie.

Ek wou masjinis word… maar ek kon nie aan die gang kom nie.

Ek wou myner word… maar ek is nie juis ‘n diep ou nie.

Ek wou tuinier word… maar ek was te deur die blare.

Ek wou omroeper word… maar ek het tot my sinne gekom.

Ek wou sanger word… maar ek het te veel kleingeld en te min note gehad.

Ek wou student word… maar ek wou nie aanhou boeke vat nie.

Ek wou uitgewer word… maar ek kon nie die druk vat nie.

Nou wil ek sakeondernemer word… maar ek wil darem nie 24 uur ‘n dag besig bly nie. Ek bedoel, ‘n mens móét darem ontspan ook.

Oorspronklik gepubliseer in die boek Kwinksinnig: Taalskertse deur Johan Combrink met illustrasies deur Piet Grobler.
Uitgewers: Tafelberg, 1998

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hans ·

Ek het 3 maande gelede afgetree. Bly in plattelandse dorpie, waar almal weet van jou.
Na dekades van jaag in Gauteng verkeer, winter of somer, storm of son, vroeg opstaan vir werk en laat aan die slaap raak, slaap ek laat en voel skuldig…
Ek het egter nie rede om skuldig te voel nie. Tog het ek behoefte om weer struktuur aan my dag te gee.
Ek was nog nooit afgetree nie..
Ek het tog so tipe roetine ontwikkel. Staan so teen 07h00 op, eet ontbyt, was wasgoed, maak woonplek netjies, stap na biblioteek, lees.
Ek het besluit dat die regte geleentheid dit wel sal voordoen op die regte tyd. Ek leer geduld aan

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.