Woord: Gholf

Foto ter illustrasie (Foto: Rudy and Peter Skitterians/Pixabay)

Nie al die gholfterme wat ons in Afrikaans gebruik, is direkte vertalings uit Engels nie. Afrikaanse gholfentoesiaste het self ook met etlike nuutskeppings vorendag gekom.

Die Engelse “drive” van die bof af word in Afrikaans byvoorbeeld ʼn bofhou genoem. In Engels heet die stok waarmee so ʼn “drive” uitgevoer word, ʼn “driver”. Baie Afrikaanse spelers praat sommer van ʼn “drywer”, maar die regte naam vir dié stok is die nr.1-stok.

Vir die Engelse “putting green” is die mooi Afrikaanse woord setperk geskep. In Afrikaans is “bunkers” sandkuile en ʼn “approach shot” is ʼn naderhou.

Na ʼn “long shot” verwys ʼn mens in Afrikaans as ʼn plofhou. Dit is ʼn hou wat die bal hoog die lug in laat trek, waarna dit as’t ware neerplof en net daar op die setperk bly lê. ʼn “Wedge shot” is ʼn kaphou. Die speler kap na die bal om dit by of op die setperk te kry.

As ʼn speler gelyk aan baansyfer speel, word in Engels gesê hy of sy speel “on par”, aangesien sekere afstande gestandaardiseer is. Vir die Engelse woord “par” gebruik Afrikaans die woord syfer, byvoorbeeld “syfer 3” of Syfer 4”. Syfer dui die getal houe aan wat ʼn speler na ʼn spesifieke putjie toe moet speel.

Wanneer ʼn speler een hou meer as die baansyfer speel, praat die Engels van “bogey”, wat spook beteken. In Afrikaans word gewoon gesê jy is een oor (die baansyfer), ʼn “double-bogey” is twee oor baansyfer, ʼn “triple-bogey” drie oor baansyfer, en so meer.

Die Engelse “birdie” kom van ʼn slengwoord wat ‘uitsonderlik’ beteken: “That was a bird of a shot!” So word gesê as ʼn speler van die skoonveld af ʼn uitstekende hou slaan. In Afrikaans is dié “bird” met voëltjie vertaal. As ʼn mens “ʼn voëltjie slaan”, slaag jy daarin om die bal in die putjie te laat land met nog een hou oor. Jy voltooi dus die putjie met een hou minder as of onder die baansyfer, dit is die veronderstelde getal houe wat vir die voltooiing van die betrokke putjie nodig geag word.

ʼn Speler wat dit regkry om twee houe onder die baansyfer te eindig, behaal ʼn arend. Wie ʼn arend aanteken, presteer baie goed.

Drie houe onder baansyfer, wat ʼn uitsonderlike prestasie is, word ʼn albatros genoem en ná ʼn albatros kom ʼn kondor.

Die laaste voël wat ʼn speler kan aanteken – vir ʼn enkele sessyfer-putjie-kolhou (Engels: “hole in one”) – is ʼn volstruis. Dat ʼn speler daarin geslaag het om so ʼn hou te speel, is egter nog nooit gerapporteer nie, want dié afstand van bof tot putjie is geweldig lank.

Bron: Die tale wat ons praat – taaldinge uit die gewilde radioprogram
Uitgewer: Penguin Random House
Prys: R230,00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Andries ·

Oulik. Ons kon hartoorplantings en kernwapens kafdraf in Afrikaans. Dus is gholfterme heel maklik.

Ek dink egter die term no. 1 stok hierbo is verkeerd. Ek sou sê No.1 hout aangesien daar ook ‘n no.1 yster bestaan (alhoewel dit nie in baie moderne sakke ‘n tuiste het nie).

Piet ·

1-hout word definitief meestal gebruik. Nog nooit van die term no. 1 stok gehoor nie.

Piet ·

Ons het mooi woorde vir gholfterme maar die sport se naam self word net anders gespel as in Engels. Kry ‘n Afrikaanse woord vir die sport om regtig oulik te wees!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.