Woordsoorte: Hoekom?

Argieffoto (Foto: Mediamodifier/Pixabay)

Dit is altyd in ʼn leerproses nodig om te weet hoekom ʼn mens ʼn ding moet weet. Nie net gee dit ʼn mens die moed en die lus om deur te druk nie, dit maak die leerproses vir ʼn mens sinvol. En nuttig. Ek kry die indruk dat die hoekom veral in grammatika-onderrig ʼn bietjie in die slag gebly het, en dat die hantering van die sogenaamde “taalstrukture en -konvensies”, soos die KABV dit noem, nie altyd netjies verantwoord word nie.

Dit is veral in grammatika-onderrig kernbelangrik dat ʼn leerder (en ʼn onderwyser, natuurlik) moet weet hoekom ʼn ding onderrig word. “Want dit staan in die leerplan” is, van al die redes wat ʼn mens daarvoor kan opdis, sekerlik die vrotste. Dit val in dieselfde klas as jou ma wat gesê het jy mag nie ʼn ding doen of hê nie “omdat ek so sê”. Jy onthou later nie eers meer wat jy nie mag gedoen of gehad het nie, jy weet net jy het in daardie oomblik gedink jou ma is onredelik.

ʼn Kurrikulum sluit inhoud in vir ʼn rede. Taalstrukture en -konvensies is in die KABV vir ʼn rede: Geen mens kan enige vakkennis in enige skool- of universiteitsvak bemeester as hy of sy nie taalstrukture en -konvensies onder die knie het nie. Die leerder leer naamlik alles in alle vakke deur middel van taal, en gee al die antwoorde in alle vakke deur middel van taal weer. Selfs in vakke soos wiskunde en tegnologie speel taal ʼn kardinale rol. Al word die antwoord in die vorm van ʼn skets of ʼn diagram weergegee, is die opdrag deur middel van taal gegee. Wanneer taalonderrig nie slaag nie, is die leerder se vermoë om te leer en opdragte korrek uit te voer, beduidend belemmer.

Ons het ons gratis aanlyn grammatika aan die gang gesit met die beskrywing van woordsoorte. Die besluit om daarmee weg te spring, is nie lukraak geneem nie. Woordsoorte is gewoonlik die eerste afdeling in enige grammatika, want dit is die basiskennis wat ʼn mens nodig het om enige ander afdeling van ʼn grammatika te beskryf. Kom ek illustreer aan die hand van ʼn paar voorbeelde uit die “werklike lewe” hoe kennis van woordsoorte ʼn mens kan help:

Een van die grootste kopsere vir jong (en ouer) spellers, is die los en vas skryf van woorde. Een van die gereeldste klagtes wat ek kry, is dat mense op skool geleer het “een ding is een woord”. Nou sukkel hulle, want mediese skema is een ding, maar toe hulle dit vas geskryf het as *medieseskema, het een of ander wysneus gesê dit is nie korrek nie. Die wysneus is reg: Dit is nie korrek nie. Daar is ook nie ʼn spelreël wat sê “een ding is een woord” nie. Daar is ʼn spelreël (AWS 15.3) wat sê ʼn samestelling is een woord, en daar is ʼn ander een (AWS 15.28) wat sê dat ʼn adjektief + naamwoord (skoolterme: byvoeglike naamwoord + selfstandige naamwoord) los geskryf word. Gewapen met hierdie reëls, en met die vaardigheid om klinkklaar te toets of ʼn woord ʼn adjektief is of nie, raak die los skrywery van woorde soos privaat skool, aanlyn winkel, senior koor en mediese skema onmiddellik duidelik, en raak die vas skrywery van woorde soos gunstelingkleur, reusegemors, standaardantwoord en belastingskema onproblematies.

Nog ʼn voorbeeld: AWS 9.3 sê eienaamwoorde word met hoofletters geskryf. As jy weet hoe om te bepaal of ʼn woord ʼn eienaamwoord is, kan jy onmiddellik besluit waarom die eerste ma hier onder ʼn hoofletter moet hê en die tweede ma nie ʼn hoofletter mag hê nie:

  1. Ek wil Ma se motor vanaand leen. Mag ek, asseblief?
  2. Ek wil my ma se motor vanaand leen, maar ek sal eers haar toestemming moet vra.

Toegewyde gebruikers van die AWS weet daar is omtrent nie ʼn enkele spelreël wat nie na woordsoorte verwys nie. Maar dis nie net spelreëls wat op woordsoorte berus nie. Sintaksis (skoolterm: sinsleer) berus ook daarop. Baie gebruikers kla by my oor die (foutiewe) reël dat ʼn hoofwerkwoord in ʼn komplekse sin aan die sinseinde moet staan. Dit beteken as ʼn mens twee sinne soos die volgende verbind, moet die volgende gebeur:

  1. Ons sal met almal moet praat. + Almal het belang by die prosesse en uitkomste van die projek. = Ons sal met almal wat belang by die prosesse en uitkomste van die projek het, moet praat.

Intussen is die aanbeveling (soos vervat in Norme vir Afrikaans van WAM Carstens) dat die hoofwerkwoord so na as moontlik aan die onderwerp gehou moet word sodat die leser/hoorder die draad van die argument kan volg. Dan lyk die sin so:

  1. Ons sal met almal moet praat wat belang het by die prosesse en uitkomste van die projek.

Ons kan bogenoemde gesprek net hê as ons weet wat ʼn hoofwerkwoord is.

Ook in die morfologie is woordsoorte belangrik. Net naamwoorde kan meervoude en verkleiningsvorme kry. Werkwoorde kry die verledetydsvorm. Adjektiewe en bywoorde kry trappe van vergelyking. Daarom is die woord breek ʼn naamwoord (dit kan die meervouds-e kry: breke) of ʼn werkwoord (dit kan -ge- kry: gebreek). Omdat ons hierdie morfologie verstaan, weet ons dat albei die sinne hier onder korrek is:

  1. Ons het oor tien minute ʼn breek.
  2. Ons breek oor tien minute.

Nou goed, kennis van woordsoorte is belangrik – watter woordsoorte ons in Afrikaans kry, hoe om die woordsoort te bepaal, wat die eienskappe van die woordsoort is, watter woorde alles tipies hierdie woordsoort is. Waar kry ʼn mens hierdie kennis? In Taalonderrigportaal, VivA se portaal waarin ons gratis aanlyn grammatika gehuisves word. Lees die inleiding tot die hoofstuk oor woordsoorte hier, waarin die nut en waarde van die hoofstuk breedvoerig verduidelik word. En gaan dan na die oorsig oor woordsoorte, waarin ʼn mens op een bladsy al die noodsaaklikste inligting oor elke woordsoort kan kry. Wenk: Al die inligting op hierdie bladsy mag net so gekopieer en aan leerders uitgedeel word.

As daar vrae, onduidelikhede, kwellings of teenstrydighede is, skakel gerus met my by [email protected] of per whatsapp by 0621260295. Ek help graag.

VivA-groete

Sophia

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.