Taalkursusse vir vryskutwerkers by NB Akademie

Argieffoto

Argieffoto

Wou jy al ooit in die boekebedryf werk? Dalk het jy reeds ’n voet in die deur, maar jy wil graag jou vaardighede opskerp. Die nuwe NB Akademie, ’n inisiatief van NB-Uitgewers, bied vanaf September vanjaar vir die eerste maal ooit opwindende reekse kortkursusse oor verskillende aspekte van die uitgewersbedryf aan vir vryskutters én nuwelinge in die bedryf.

Vanjaar se program by NB Akademie sluit agt kursusse in – vyf gemik op tekswerkers en drie op ontwerpers. Die kursusse word in September in die Kaap en in Oktober in Pretoria aangebied. Die werkswinkels is:

Hoe om ’n teks te proeflees
Louise Steyn, ’n ervare redigeerder, proefleser en vertaler, maak jou touwys oor hoe jy die proefleesproses moet aanpak. Kom leer by haar watter woordeboeke en naslaanbronne jy moet gebruik, hoe om wisselvorme te hanteer, en wat die verskil tussen proeflees en redigeer is. Die kursus is gerig op beginner- en ervare tekswerkers in Afrikaans.

Maak ’n fiksieteks persklaar
Wat mág jy as redakteur doen? Wat is die moets en moenies wanneer jy aan ’n fiksieteks skaaf? Hoe doen jy dit sonder om die skrywer se stem te skaad? Die ervare teksredigeerder Suzette Kotzé-Myburgh wys jou hoe in hierdie kursus vir beginner- en ervare tekswerkers in Afrikaans.

Redigeer ’n resepteboek
Hoe pak jy die redigeer van ’n resepteboek aan? Hoe gee jy leiding aan ’n kookboekskrywer? Die kookboekliefhebber Anita van Zyl, ’n redigeerder wat 15 jaar in die bedryf gewerk het en nou vryskutwerk doen, gee praktiese raad in hierdie kursus gemik op Afrikaanse tekswerkers.

Redigering van narratiewe niefiksie
Wanneer verkort ’n mens ’n teks? Hoeveel sny jy sonder om op die skrywerstem in te boet? Waar trek ’n mens die streep tussen herskryf en goeie redigering? En is Google jou beste vriend wanneer jy feite kontroleer? Kom leer by André le Roux, ’n redigeerder wat in niefiksie spesialiseer en die afgelope 40 jaar met boeke, skrywers en uitgewers werk. Die kursus is gemik op Afrikaanse tekswerkers.

Hoe om ’n boekomslag te ontwerp
Bestee jy ure in boekwinkels om jou te verlekker in die nuwe neigings in boekontwerp? Dan is hierdie kursus net vir jou. Die kenner Hanneke du Toit sal jou wys hoe om ’n uitgewer se instruksies te volg, hoe jy boekomslae vir verskillende genres moet benader, en hoe om foto’s, beelde en tipografie toe te pas. Die kursus word in Engels aangebied.

Hoe om ’n elektroniese boek te ontwerp 101
Jy’s dalk al ’n gesoute boekontwerper, maar hoe pak jy die ontwerp van ’n e-boek aan? Wouter Reinders het jare se ervaring in tipografiese ontwerp en hy verstaan die uitdagings van e-boekontwerp. Ná afloop van hierdie kursus sal jy ’n foutlose e-publikasie kan maak. Die kursus is gemik op beginners en kennis van InDesign 6 is ’n voorvereiste. Dit word in Engels aangebied.

Hoe om ’n boek te ontwerp
Dit bly ’n kuns om ’n boek te ontwerp: Hoe kies jy die lettertipe? Watter styl moet jy volg wanneer jy ’n besigheidsboek ontwerp? Moet die binnewerk die omslag eggo? Hoe gemaak met woordbreuke en spasiëring? Twee kenners in die bedryf – Nazli Jacobs en Wouter Reinders – sal jou leiding gee in hierdie proses. Kennis van InDesign 6 is ’n voorvereiste. Die kursus word in Engels aangebied.

Hoe om ’n e-boek te kontroleer
Die kontrolering van e-boeke is ’n nuwe vaardigheid wat die boekbedryf nodig het. Iemand wat kan seker maak dat die inhoudsopgawe reg opgestel is en die e-boek en ander visuele materiaal reg vertoon op rekenaarskerms en mobiele toestelle. Gryp hierdie geleentheid aan en kom leer by die spesialiste Surene Esterhuizen en Suzaan Hauman. Die kursus word in Engels aangebied.

Volgens Nèlleke de Jager, uitgewer by Human & Rousseau en programsamesteller vir NB Akademie, is daar ’n voortdurende behoefte in die bedryf vir goeie vryskutwerkers. “Ons hou duime vas dat ons met NB Akademie ’n hele nuwe generasie tekswerkers en boekontwerpers kan oplei. Hopelik sal dié program nuwelinge en vryskutters met ondervinding aanspoor om van ons kursusse by te woon.”

Belangstellendes kan meer inligting kry oor die kortkursusse en hoe om te registreer op NB Akademie se webwerf, http://nbakademie.co.za/. Pryse vir die kursusse wissel tussen R1 800 en R3 000.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sigrid Oliver ·

Ek sou baie belangstel en het gewonder of afstandkursusse beskikbaar is omdat dit moeilik sal wees om Pretoria/Kaapstad toe te gaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.