Taalnuus: Ek praat jóú taal: ATKV-meertaligheidsweek

meertaligheidsweekDie Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV), die Departement Afrikaans en Departement Linguistiek van die Universiteit van Johannesburg (UJ) en Vriende van Afrikaans (VVA) nooi jou uit na hulle meertaligheidsweek wat van 26 tot 29 Maart 2014 by die Sowetokampus van UJ gehou word.

Die gedagte van ʼn meertaligheidsweek het ontstaan toe die drie groepe hulle gesamentlike taalprojek in Soweto wou bekendstel. Die ATKV, UJ en VVA is al jare lank op kleiner skaal betrokke by Afrikaanse klasse in Soweto. “Afrikaans is een van die baie tale wat in Soweto gepraat word en ons wil hierdie besondere meertaligheid van Soweto in Soweto vier,” sê Karien Brits, bestuurder: taalaangeleenthede van die ATKV.

Amanda de Stadler, die uitvoerende beampte van die VVA, sê haar organisasie is verheug om, na ʼn jarelange verbintenis met Afrikaans in Soweto, op ʼn meer konstruktiewe wyse ʼn bydrae te maak tot ʼn waardering vir al die tale van Suid-Afrika. “Ons streef daarna dat kinders nooit moet voel hulle taal is minderwaardig nie, of dat hulle hulle taal nie ‘reg’ praat nie. Ons wil ook die geleentheid benut om, met Afrikaans as voertuig, ʼn leeskultuur onder veral klein kindertjies te vestig waaruit hulle lewenslange plesier sal kan put.”

Dr. Donovan Lawrence, senior lektor aan die Departement Afrikaans van die UJ, sê die departement is toenemend verbind tot die bevordering van meertaligheid en die aanleer van mekaar se tale. “Ons is veral opgewonde omdat ons hierdie verbintenis tot praktiese uitvoer kan bring in 2015 wanneer ons vir die eerste keer Afrikaans as deel van die BEd-kursus (Intermediêr) op ons Sowetokampus aanbied.”

Volgens Karien Brits kyk die ATKV met nuwe oë na Afrikaans in ʼn meertalige Suid-Afrika. “Ons wil graag ʼn positiewe bydrae lewer tot nasiebou. Ons glo dat ons dit doen deur mekaar se tale te praat, iets wat belangrike taalbrûe bou.”
Kom praat jóú taal by ons meertaligheidsweek, want tolkingsfasiliteite sal deurlopend op die Sowetokampus van die Universiteit van Johannesburg beskikbaar wees, en neem deel aan enige van die volgende aktiwiteite vir jonk en oud:

• Voorleesdemonstrasies waar volwassenes en ouer kinders leer om vir kleiner kinders voor te lees
• ʼn Meertalige vasvraekompetisie: kinders leer mekaar se tale spelenderwys
• Afrikaanse klasse – kom kyk hoe leer ons kinders Afrikaans
• Simposiums oor die impak en hantering van meertaligheid in die klaskamer en oor opvoedkundige tolking
• ʼn Skryfkursus – jy is dalk die volgende Nobelpryswenner van Soweto!
• Besoek aan die Hector Pieterson-museum
• Amptelike bekendstelling van die meertaligheidsprojek in Soweto
• Taalspeletjies vir kinders
• Werkswinkel vir Afrikaanse taalonderwysers wat fokus op tweedetaalsprekers

Die programme begin daagliks van omstreeks 08:00 en duur tot 16:00. Besoek die ATKV se webwerf vir meer inligting.

Kom leer saam met ons oor mekaar se tale, want ons wil mekaar verstaan.

Belangstellendes kan meer oor die week uitvind en plek bespreek by Karien Brits deur 011 919 9136 te skakel of ʼn e-pos te stuur na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.