Taalraad plaas kollig op moedertaal dié Vrouedag

Amanda Strydom. (Foto: Merwelene van der Merwe)

Suid-Afrikaners vier jaarliks op 9 Augustus Nasionale Vrouedag en daarmee saam ook die land se verskeidenheid van tale en kulture.

Met die oog op hierdie geleentheid bied die Afrikaanse Taalraad, Die Dameskring, Atterbury Trust en ATKV vanjaar op 3 Augustus ʼn rondetafelgesprek aan met die tema “Afrikaans as moedertaal vandag – wat is die impak?”.

Jacqui January, bekende RSG-omroeper en lid van Die Dameskring, tree as gesprekleier op, en die gassprekers is dr. Annelise de Vries (Akademia), Sonel Brits (ATKV) en prof. Anne-Marie Beukes (SAWK). Vroue wat die geleentheid bywoon, kan uitsien na vermaak deur Amanda Strydom.

“Die geleentheid herinner ons aan die vele bydraes van vroue tot die land,” sê Merlyn van der Rheede, die Afrikaanse Taalraad se noordelike projekbestuurder.

Volgens Van der Rheede is dit terselfdertyd ook ʼn geleentheid om opnuut oor die invloed van vroue in die samelewing te besin, veral ten opsigte van taal en onderwys.

Vroue het ʼn enorme invloed op hulle eie kinders en die kinders van ander in die omvattende gemeenskap. Elke vrou het ook ʼn unieke stem en bydrae om te maak.

Is die Afrikaanse vrou van vandag bewus genoeg van die voordele van moedertaalonderrig en meertaligheid? Wat is die verband tussen ons kinders se selfvertroue en hulle taal en kultuurerfenis? Hoe gebruik jy as vrou jou invloed in die familie en gemeenskap om die regte besluite oor taal te neem?

Dít is van die vrae wat tydens die rondetafelgesprek bespreek sal word.

“Met dié gesprek wil ons erkenning gee aan die kleurryke en diverse wortels van Afrikaans en sy sprekers,” sê Van der Rheede. “Ons nooi alle vroue, veral die jonger generasie, om hierdie geleentheid by te woon en hulle stemme te laat hoor.”

Die geleentheid vind 3 Augustus om 09:00 by die Atterbury Teater in Pretoria plaas. Kaartjies kos R100 en is op Seatme beskikbaar. Vir enige navrae stuur ʼn e-pos aan Merlyn van der Rheede na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.