Taalsuiwerheid – die plek van die standaardvariëteit

Argieffoto

Deur Sophia Kapp

Verlede week het ons vinnig gekyk na die terminologie wat in ʼn gesprek oor taalsuiwerheid van toepassing is. Die belangrikste beginsel wat jy uit dié bespreking moes wys word, is dat geen taal netjies in ʼn blik pas nie. Enige taal se sprekersgemeenskap is ʼn losse mengsel van moedertaal-, tweedetaal- en vreemdetaalsprekers, van oumense en tieners, van geleerdes en gewones, van vaandeldraers en knutselaars. Almal het die reg om deel te wees van die taalgemeenskap, en almal se bydrae, hoe krom en skeef dit nou ook al mag lyk, is belangrik.

Afrikaans is geen uitsondering nie. Taalkundiges is al dekades lank besig om die variëteite van Afrikaans te bestudeer, en Afrikaans.com, die ATKV, VivA en die WAT doen baie moeite om taalskatte uit die variëteite op te teken. Dit is vir ons almal interessant en bemoedigend, want dit wys vir ons dat die taal sprankel en woeker en leef.

Maar waar pas Standaardafrikaans dan in hierdie prentjie in? Wat is die funksie daarvan, en hoe moet ʼn mens dink oor die feit dat (slegs) Standaardafrikaans op skool in taalkundeklasse aan leerders oorgedra word? Is dit nie ʼn bietjie hovaardig om een variëteit bo al die ander te “verhef” en dit aan die sprekers van variëteite voor te hou as die ideale vorm van die taal nie?

Kom ons begin by die persepsie dat die standaardvorm van enige taal die “beste” vorm is. Uit ʼn sosiolinguistiese oogpunt is geen enkele vorm van enige taal “beter” of “slegter” as die ander nie. Die primêre doel van taal is dat dit sprekers in staat moet stel om te kommunikeer, en as kommunikasie plaasgevind het, het taal sy doel gedien. (ʼn Mens hoor baie die argument “dit maak nie saak hoe ek spel nie, mense kan my verstaan”. So irriterend as wat dit vir taalpuriste is om dit aan te hoor, is dit eintlik heeltemal waar. As ek “onmiddelik” eerder as “onmiddellik” skryf, het ek kwalik my leser oor ʼn begripsafgrond gestuur.) Die verklaring van enige vorm van die taal as die “standaard” beteken dus nie dié vorm is nou ʼn bepaler van taalaansien of die standaard waarby al die ander variëteite afsteek nie, dit beteken gewoon dis algemeen gebruiklik (en ek sal nou verduidelik wat ek daarmee bedoel).

Daarbenewens kan ʼn mens die standaardvariëteit van ʼn taal so ʼn bietjie as ʼn geïdealiseerde vorm beskou. Taalkundiges verskil hieroor, maar ek ken byvoorbeeld nie ʼn enkele spreker van Afrikaans (met die moontlike uitsondering van Riaan Cruywagen) wat elke oomblik van elke dag Standaardafrikaans praat nie. Dit maak nie saak hoe ryk of belangrik jy is nie, iewers kruip daar altyd ʼn ding in jou taalgebruik in wat nie in die AWS is nie. Hoewel ek dus die bestaan en die nut van die standaardvorm erken, veral vir geskrewe situasies, dink ek nie dis noodwendig iets waaraan ek my siel wil koppel nie. Daar is situasies waarin ek lekker woes met die taal werk en wil werk, en dit is my reg om dit te doen sonder dat ek my lidmaatskap van die taalgemeenskap kwyt is.

Wat wel belangrik is, is dat al die sprekers van die taalgemeenskap kennis van die standaardvorm moet hê. Hoekom?

  • Die standaardvariëteit is die ongemerkte vorm van die taal. As ek sê ek “rol velle” (pak haastig op voor my vertrek) of ek “kietel” (“kielie”) ʼn kitaar (albei deur Anton Prinsloo opgeteken in Annerlike Afrikaans) merk dié uitdrukkings my as ʼn inwoner van ʼn bepaalde streek. Dit is sinvol as ek ʼn karakter in ʼn storie moet skep wat ʼn verbondenheid met ʼn bepaalde plek moet aantoon, maar as ek ʼn nuusberig vir die radio moet opstel en ek skryf “Die Guptas het oornag velle gerol”, is sulke taalgebruik nie doeltreffend nie.
  • Dis die vorm wat die wydste verstaan word. Die niestandaardvariëteite is die voedingsbron van ʼn lewende taal. Studente wat praat van “pong” en “perskes pluk” en “aksies hou” is by uitstek uitdinkers van nuutskeppings. Maar hulle taal word juis geskep om solidariteit met ʼn studentegemeenskap te bewerkstellig. ʼn Vyftigjarige tante wat genooi word om te gaan “perskes pluk” moet haar bedink – sy gaan haar dalk meer as ʼn mandjie vrugte op die lyf loop. As ons ʼn gehoor of ʼn leserspubliek wil bereik wat verstaan wat aangaan, moet ons die algemeen gebruiklike weergawe aanwend.
  • Of ons dit nou wil weet of nie, ons taalgebruik gee iets van ons te kenne. Mense wat ons nie ken nie, lei iets af van ons menswees op grond van ons taalgebruik. Keurige, netjiese taalgebruik skep die indruk van bevoegdheid, net soos wat ʼn netjiese kantoor en formele kleredrag die indruk van professionaliteit skep. Slordige taalgebruik skep die indruk van iemand wat nie bereid is om hulle werk te gehalteverseker nie.

Taalonderrig fokus op die standaardvariëteit. Elke taal se sprekers (moedertaal- en ander) moet sy standaardvorm aanleer. Die niestandaardvariëteite leer hulle in elk geval op hulle eie aan – dis nie vir enigiemand nodig om skoolkinders te leer sleng praat nie, hulle kry dit goed reg op hulle eie. Onderwysers se taak is om seker te maak dat hierdie slengbevoegde kinders ook darem ʼn brief aan ʼn voornemende werkgewer, die Ontvanger van Inkomste of ʼn paroolraad kan skryf. En om seker te maak ons kry darem ook een keer elke skrikkeljaar ʼn potensiële leksikograaf, taalpraktisyn, digter, skrywer of taalkundeprofessor afgelewer.

Hoe moet my en jou houding teenoor die standaardvariëteit wees? Praat (en skryf) gerus soos wat die omstandighede dit vereis. As jy oor ʼn Castle met ʼn paar pelle staan en twak praat, gaan die taalpolisie jou nie arresteer omdat jy praat van jou “gibbes” of jou “cherrie” nie. (Jy mag dalk alleen huis toe gaan, maar dis ʼn ander blog.) Maar die dag as jy jou pak aantrek en jou duur rekenaar aanskakel om jou professionele voorlegging vir jou voornemende beleggers te wys, moet jy weet hoe om te praat en te skryf sodat die vroulike HUB jou nie by die venster uitstamp nie.

En dis net daar waar die knoop lê: Wat die hart van vol is, en so aan. As jy so verknog raak aan jou praattaal en so bedrewe raak in Loslitafrikaans dat jy naderhand nie meer die standaardweergawe ken nie, kan dit jou duur te staan kom.

Veral as die raadsaal op die boonste verdieping van ʼn wolkekrabber is.

Sophia Kapp

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Rubrieke, Toetentaal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JC ·

Baie oulik, verskriklik dankie vir hierdie omvattende verduideliking.

JdV ·

Goeie artikel! Benut Afrikaans in al sy variëteite na gelang van die omstandighede en geleenthede. Maar moet liefs nie jou taal meng nie – dit lei tot groot verwarring! Ek en vroulief het al ‘n argument gehad oor ek haar verkeerd verstaan het oor sy ‘n Engelse woordjie ingegooi het, terwyl ek hom in Afrikaans gehoor en verstaan het.

Nico K ·

Ek stem saam met die artikel. Ons kan nie keer as jong mense hul taal meng nie. Ouer mense wat daaroor te kere gaan, bereik niks. Maar ‘n standaard is nodig. Hoe leer ander nasies jou taal aan as daar nie reëls is nie. En dit is so, ander mense oordeel jou oor hoe jy die taal praat. So in ‘n onderhoud vir werk moet jy beindruk. Kyk maar net hoe kritiseer Maroela se lesers as iemand ‘n klein spelfoutjie maak.

Marika ·

Lekker gelees, dankie! Dis propvol ryk woordeskat. Ek stel veral belang in streekstaal – Afrikaans spesifiek. Wonder waar ek meer sulke omvattende artikels en skrywe in die verband kan opspoor?

Danie Prinsloo ·

Taaltrots is die wortel van suiwer taalgebruik. Taaltrots is so skaars soos hoendertande, daarom weet jongmense nie meer hoe om Afrikaans te praat nie. Die kunsternaars, joernaliste, selfs predikante en almal wat wil ” in” wees of jonk wil voorkom, gebruik geradbraakte Afrikaans. Hoe moet jongmense weet wat die korrekte Afrikaans is. Ek het ervaar dat ‘n intelligente jongman gedink het dat “guava” Afrikaans is! Wat dink ander-taal-sprekers ? Hoe kan ons verwag dat hulle ons taal moet respekteer? Soos ‘n Engelse student destyds aan Afrikaanse studente gesê het “Havn’t you got an Afrikaans word for that? It must be a very poor language”

Riaan Cruywagen ·

Sophia, baie dankie vir ‘n skitterende artikel. Ek stem volmondig met jou saam. Jou opmerking oor my taalgebruik het aan my heerlike binnepret verskaf — al praat ek eintlik maar net soos ek gebek is (soos wyle prof. Johan Combrink gesê het)! Mag ons nog lank die vreugde van jou pennevrugte en weldeurdagte taaladvies geniet.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.