Taalsuiwerheid – hoofbrekens oor “brekende nuus”

Argieffoto (Foto: stevepb, Pixabay)

Deel van my werk is om daagliks op VivA se Facebookblad ʼn meem oor een of ander taalinteressantheid te plaas. Ons doen dit vir bewusmaking en bemarking, van VivA, van ons dienste en van Afrikaans. Dit werk lekker – onderwysers het my al laat weet hulle druk die meem en plaas dit op hulle klaskamers se mure, en “gewone” taalgebruikers kom vra of kla of stry daar oor die saak. Dis lekker om te sien hoe betrokke almal is en hoe vurig hulle nog oor Afrikaans kan raak. Maar soms kry die ding ʼn suur noot en moet ʼn mens ingryp om net weer die gemoedere tot bedaring te kry.

So het dit hierdie week gegaan oor my plasing oor “brekende nuus”. Daarin dui ek aan dat “brekende nuus” die erkende, gestandaardiseerde vertaling is vir “breaking news”. En, soos gewoonlik, het ek die meem geplaas en toe so ʼn bietjie teruggestaan sodat mense hulle sê kan sê sonder dat ek daar staan en skeidsregter speel. Hoe het hulle op “brekende nuus” gereageer? Kom ek volstaan dan nou maar net: Hierdie krieketwedstryd het binne ʼn uur in ʼn rofstoeitoernooi verander.

Daar was ʼn hele paar baie pront reaksies, omtrent almal op die trant van “lelik”, “aaklig”, “lomp”, “flou”, “belaglik” en “kan nie wees nie”. Volgens van die klaers was die vertalers wat met die ekwivalent vorendag gekom het, selfs “lui” en “hensoppers”. Soos ek sê: Ek waardeer die deelname op die blad, maar ek behou my ook die reg voor om daarop te reageer, veral op die laaste twee aantygings, want as dit persoonlik raak, raak ek woordvaardig.

My vraag aan al die beswaardes was: Is julle oordeel (van “mooi” teenoor “lelik”) op enigiets anders gegrond as dat “brekende nuus” ʼn direkte vertaling uit die Engels (breaking news) is? Indien wel, moet julle al die ander direkte vertalings uit Engels ook verwerp: “plaaslike nuus” vir “local news”, “internasionale nuus” vir “international news”, “nuusflits” vir “newsflash”, “ontvouende nuus” vir “unfolding news”, “sportnuus” vir “sports news”, “nuusbulletin” vir “news bulletin” en daarmee saam sommer al die ander woorde en frases wat ons daagliks aanwend wat ons uit Engels gekry het. Dis te veel om hier op te noem, ons sal hier sit tot die oordeelsdag.

Die antwoord op die vraag is eenvoudig: Daar is niks fout daarmee om woorde en frases direk uit ʼn brontaal te vertaal nie. Die vooraanstaande vertaalkundige Peter Newmark (hy was professor in vertaalkunde aan die universiteit van Edinburgh) het trouens gesê die verstektegniek wat jy by vertaling gebruik, is direkte vertaling. Dis eers wanneer ʼn direkte vertaling probleme oplewer dat ʼn mens ander vertaaltegnieke (soos omstelling, omkering, koeplette, ens.) begin aanwend.

As ek kyk na die voorstelle wat die beswaardes ingedien het, kon ek ook nie een daarvan as ʼn werkbare oplossing vir die probleem beskou nie: “Nuusflits” is nie ʼn ekwivalent nie, dis ʼn vertaling vir “news flash”. “Ontvouende nuus” is die vertaling vir “unfolding news”, wat iets heeltemal anders beteken – die nuus het reeds gebreek en nou is die storie aan die ontvou. “Laaste nuus” is ʼn direkte (en anglisistiese) vertaling van “latest news”. In Afrikaans is dit “jongste nuus” – wat ook nie ʼn ekwivalent vir “breaking news” is nie. “Nuusbreker” was ʼn ander voorstel (wat ek ook op Netnuus gesien het en wat my trouens genoop het om die plasing te maak). ʼn “Breker” is ʼn entiteit wat ʼn ander entiteit breek. ʼn Ysbreker (die skip) breek ys in stukke. ʼn Baanbreker breek ʼn baan oop. ʼn Rugbreker breek ʼn rug in twee. ʼn Nuusbreker breek die nuus … Ja? Hoe? As jy nou ʼn “lelike” vertaling wil sien, is dit ʼn uitstekende voorbeeld.

ʼn Paar gebruikers het voorgestel dat ʼn nuwe ekwivalent deur middel van ‘n volkskepping verkry moet word. Dit was interessant. Varsgebek, ons kompetisie vir nuutskeppings, het twee jaar geduur. Ons het nie een voorstel vir “breaking news” gekry nie. Volkskeppings wat so van “bo” af op taalgebruikers afgedwing word, werk boonop baie selde. Vra maar vir mense wat hulle van die woord “toep” vir “slimfoontoepassing” dink. Almal kry sewe soorte piep, maar dis ʼn produk van so ʼn einste kom-ons-dink-ʼn-nuwe-woord-uit-veldtog.

Die aantyging dat “brekende nuus” die gevolg is van lui of onderduimse vertaalwerk, is waarskynlik die een wat my die meeste verstom het. Asof vertalers by verstek lui en onderduims is, en agteraf sit en konkel om die taal te ondermyn. Intussen is dit hulle lewenstaak om die taal soepel en lewenskragtig te hou, en om vir lesers die beste moontlike teks in hulle eie taal te bied.

Die Taalkommissie het “brekende nuus” in die jongste uitgawe van die AWS opgeneem. Dit is dus nie sommer net ʼn plasing wat ek uit my duim gesuig het nie, dis ʼn erkende, gestandaardiseerde taalbousel. Die “keuringsproses” vir opname in die AWS, is ook nie lukraak nie. Daar word eers bepaal of die woord in standaardtaalkontekste gebruik word (“brekende nuus” is in die HAT opgeneem en dit word deur verskeie nuusbronne – onder andere Netwerk24, Maroela Media en verskeie radiostasies – as vertaalekwivalent vir “breaking news” aangewend). Dan word daar gekyk wat die Nederlanders doen (“brekend nieuws”), en dan word daar bepaal of die woord taalkundig korrek is: Die deelwoord “brekend” is gevestig in Afrikaans, in letterlike sowel as figuurlike kontekste: ʼn Mens kry brekende glas, brekende borde, brekende branders en brekende harte. Die woord “breek” word in ander kontekste aangewend saam met “nuus”: ʼn Storie breek in die nuuskantoor, ʼn verslaggewer kan ʼn nuwe storie breek, en ʼn storie kan deur CNN gebreek word terwyl die BBC nog sukkel om hulle kameras opgestel te kry. Taalkundig is daar geen rede waarom ʼn mens nie “brekende nuus” kan skryf nie.

Die punt is: “brekende nuus” is opgetekende Standaardafrikaans en die erkende vertaalekwivalent, en tensy jy met ʼn ander, beter, aanvaarde, gevestigde en opgetekende voorstel vorendag kan kom EN vir my kan bewys dat jou alternatief taalkundig meer korrek is, is “brekende nuus” die ekwivalent wat gebruik moet word. Ongelukkig is “lelik”, “aaklig”, “belaglik” en “julle is net lui” nie geldige redes vir die skrapping van die opname nie.

VivA-groete
Sophia

Sophia Kapp

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Rubrieke, Toetentaal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Therese van Schalkwyk ·

Weer eens ‘n lekker lees artikel!
(of dalk moet dit lekkerlees-artikel wees)

Een ding is duidelik:
As “nuusbreker” ‘n “lelike vertaling” is, is “brekende nuus” nét so ‘n lelike vertaling bloot in ander vorm; of dit nou “opgetekende Standaardafrikaans” is of nie.

Wat sou Haas Das van “kraakvars nuus” dink?

Frans C ·

As ‘Brekende nuus’ die ‘jongste nuus’ is, is, ‘hier is die ‘jongste nuus’ goed vir my.

Sarie Moolman ·

Het na die etimologie van die Engelse ‘breaking news’ gaan kyk, en ‘breaking’ beteken hier ‘interrupting’, dus ‘interrupting the news’ wanneer dit die geskeduleerde uitsending onderbreek. Wat dan van Nuusonderbreking? ‘Brekende nuus’ klink of die spul in skerwe spat, of dit nou in die AWS staan of nie.

JSG ·

Vir wat is almal so lief om die woord “lekker” vir alles te gebruik. Smaak dit soos iets of wat? Bv. “Hoop u het ‘n lekker aand” . Wat van “Wens u ‘n goeie of voorspoedige aand”. Blykbaar kom dit van die Engelse woord “nice”, wat na my mening “mooi of goed” beteken. Hou van die een voorstel ” Kraakvars nuus” .

JSG ·

Praat met Riaan Cruywagen. Hy sal julle vinnig ordentlike Afrikaans leer.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.