Boekwurm mag nie aan leeskompetisie deelneem nie

Tyler Weaver ontvang die toekenning van Lita Casey tydens ‘n vorige geleentheid Foto: Katie Weaver

Die ma van ʼn negejarige boekwurm van New York in Amerika eis ʼn verskoning nadat ʼn bibliotekaresse haar seun verbied het om aan ‘n leeskompetisie deel te neem.

Tyler Weaver het tussen 24 Junie en 3 Augustus 63 boeke gelees om aan vanjaar se Dig into Reading-kompetisie van die Hudson Falls-staatsbiblioteek deel te neem. Hy is al die afgelope vyf jaar as wenner van dié kompetisie aangewys.

Marie Gandron, direkteur van die biblioteek, het gesê Weaver “oorskadu” elke jaar die kompetisie en moet “ander kinders nou ʼn kans gun”. “Ander kinders gee op omdat hulle nie kan bybly nie,” het Gandron gesê.

Tyler en sy gesin is egter nie met dié uitlatings tevrede nie. “Toe hy hoor wat die direkteur oor hom te sê gehad het, was hy baie ontsteld,” het Katie Weaver, Tyler se ma, aan TODAY gesê. “Hy het nog nooit gedink om goed te lees kan negatief wees nie. Ek was baie, baie kwaad. Ek dink hulle moet Tyler om verskoning vra.”

Tyler het oor die afgelope vyf jaar, sedert kleuterskooldae, meer as 373 boeke gelees. Sy jonger boetie, wat nou sewe jaar oud is, is ook ʼn ywerige leser en het die kompetisie vir sy ouderdomsgroep al die afgelope twee jaar gewen.

Om te lees is nie Tyler se enigste stokperdjie nie. “Hy speel sokker, swem en ry sy fiets soos enige ander negejarige,” het Weaver gesê.

Weaver sê sy het sedertdien nog nie enigiets van Gandron of die raad van die biblioteek gehoor sedert Gandron se uitlatings nie. Gandron het aan die Post Star gesê sy wou aanvanklik die kompetisie se reëls verander sodat die wenner se naam eerder uit ʼn hoed getrek word, en nie bloot net die kind wat die meeste gelees het nie.

In ʼn vorige jaar het sy glo ʼn ma en haar dogter uitgevang toe hulle gejok het oor die aantal boeke wat die kind gelees het. Hulle het aangevoer sy het meer as 200 boeke gelees. Kinders moet nou vrae beantwoord, wat deur ʼn biblioteekassistent opgestel word, om te bevestig dat hulle wel die boek gelees het.

Lita Casey, wat al 28 jaar lank ʼn assistent in ʼn biblioteek is, het gesê dit is “belaglik” om name uit ʼn hoed te trek. “As jy hard werk, dan kry jy dit,” het Casey gesê. “Dis hoe dit met enigiets werk. My kleindogter het in die laerskool aan atletiek begin deelneem, en nou is sy die nasionale kampioen. Sy kon nie net terugstaan sodat iemand anders kan wen nie. Ek het dit só aan Gandron verduidelik, maar sy sê dit is nie ʼn kompetisie nie, dit is ʼn leesklub en almal moet ʼn geleentheid kry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Renier Lubbe ·

As dit gegaan het oor wie die meeste boeke gelees het moet hy mos bly wen totdat iemand anders meer lees as hy.

(Of is dit nou soos hier by ons – die beste is nie meer die beste nie.)

Amy ·

Nee hel!! Dis onregverdig. Hy het al die reg om aan die kompetisie deel te neem. As hy baie boeke gelees het, MAG HY DEELNEEM!!! So, as hy die meeste boeke gelees het, is hy die wenner, Kant en klaar!!! Wens al die kinders wil so ywerig lees. Dan sal ons nie ‘n nasie van ‘vergatiewe kinders’ (wat ure voor die tv spandeer) grootmaak nie.

Paul ·

Amy – die persoon wat die kompetisie reël, kan besluit wat die toelatingsvereistes is. Indien die toelatingsvereistes (soos in hierdie geval) belaglik en arbitrêr gemaak word, kan ons almal vinger wys en daaroor lag of dit afkeur, en die kompetisie verloor daardeur sy legitimiteit. Dit verander egter steeds nie enigiets daaraan dat die organiseerder van die kompetisie kan besluit wat die reëls moet wees nie.

Eben ·

Wonder of Marie Gandron van Suid Aapland af kom sy redeneer net soos ons mede broers en susters :-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.