Die vat van die Danaïde vul

Uitdrukking:
Die vat van die Danaïde vul

Betekenis:
Die onmoontlike probeer doen; met ‘n mislukte onderneming sit

Waar kom dit vandaan?
Luidens Griekse legende het die twee seuns van koning Belus van Egipte, Aegyptus en Danaus, 100 kinders tussen die twee van hulle gehad. Danaus het 50 dogters gehad (die Danaïdes) en Aegyptus 50 seuns.

Aegyptus het toe daarop aangedring dat Danaus se dogters met sy seuns moet trou. Danaus het egter geweier en met sy dogters na die Griekse stad, Argos, gevlug. Aegyptus en sy 50 seuns het hulle egter agternagesit. Danaus het eindelik, teen sy wil, ingestem tot die massa-troue – om sodoende sy dogters se lewens te spaar.

Op die huweliksdag het Danaus met sy 50 dogters gesels en hulle aangesê om hul eggenoot dié aand na die troue dood te maak. Buiten een dogter, Hypermnestra, het die 49 dogters die neef met wie hulle moes trou, doodgemaak. Hypermnestra het gesê sy kon nie Lynceus doodmaak nie, want sy was te lief vir hom.

Danaus het glo ʼn slinkse manier gehad om weer eggenote vir sy 49 ongetroude dogters te kry. Minnaars moes aan ʼn wedren deelneem, en die dogters het by die wenstreep gestaan. In die volgorde wat die minnaars geëindig het, in dieselfde volgorde het hulle hul nuwe eggenote ontvang.

Lynceus, die neef wie se lewe gespaar is, het na Argos teruggekeer en sy skoonpa Danaus vermoor in weerwraak op sy broers.

In een weergawe van die legende is die 49 dogters, wat skuldig bevind is dat hulle hul mans vermoor het, na hul afsterwe tot die onderwêreld verdoem. Hulle sou aanhoudend water moes gaan haal, maar die emmers was vol gate (in sommige weergawes dui dit aan dat dit ʼn sif was waarin hulle water moes gaan haal). Die gevolg is dus, dat sodra hulle die emmer vol water gemaak het, die water weer begin uitloop het – ʼn onmoontlike taak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.