Ek het ‘n huisie by die see…

HA Fagan

Ek het ‘n huisie by die see. Dis nag.
Ek hoor aaneen, aaneen die golwe slaan
teenaan die rots waarop my huisie staan
met al die oseane se woeste krag.

Ek hoor die winde huil – ‘n kreun, ‘n klag,
soos van verlore siele in hul nood
al dwalend, klagend, wat in graf en dood
geen rus kon vind nie, maar nog soek en smag.

My vuurtjie brand, my kersie gee sy lig.
Ek hoor dan maar hoe loei die storm daarbuite,
ek hoor hoe ruk die winde aan my ruite;
hierbinne is dit veilig, warm en dig.

Kom nag, kom weer en wind, kom oseaan –
dit is ‘n rots waarop my huisie staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.