Gierige Midas of ‘n Midas-aanraking?

Foto kopiereg: Pearson Education

Op ʼn dag het koning Midas, koning van Frigië in Klein-Asië, in sy pragtuin rondgestap en op ʼn ou man afgekom wat in die tuin lê en slaap het. Midas het Silenus dadelik herken en hom goedgunstig behandel. Hy het Silenus vir 10 dae lank in sy huis onthaal. Op sy beurt het Silenus vir Midas en sy vriende met verskeie verhale en liedere vermaak.

Op die 11de dag het Midas vir Silenus teruggeneem na Dionusus toe – Silenus se stiefseun en god van wyn. As beloning vir sy gasvryheid het Dionusus het vir Midas die geleentheid gebied om enigiets te versoek wat sy hart begeer. Midas se wens was dat alles waaraan hy raak, in goud moes verander.

Foto kopiereg: Pearson Education

Midas was in sy skik met sy nuwe krag – hy het dit dadelik op die proef gestel. Hy het aan ʼn takkie geraak en dit het in goud verander. Hy het aan ʼn klip gevat, en dit het in goud verander. Midas was oorstelp van vreugde en het dadelik sy diensknegte beveel om ʼn feestafel te dek. Maar, o wee! Sy kos en drank het nou ook in goud verander! En toe Midas aan sy pragtige dogter vat, het sy ook in ʼn goue standbeeld verander. Midas het finaal besef dat sy wens totaal banaal was.

Midas het nou die gawe wat hy eens begeer het, begin haat. Hy het Dionusus gesmeek om die gawe weer terug te neem sodat hy nie van honger sou sterf nie. Dionusus het ingestem en Midas aangesê om homself in die rivier Pactolus te gaan was.

Midas het dit gedoen, en toe hy in die rivier spring het sy krag in die rivier in gevloei en die riviersand het in goud verander.

Foto kopiereg: Pearson Education

Uit hierdie verhaal verwys ons vandag nog na iemand wat baie gierig is, as ʼn Midas. Ons kan ook sê dat iemand oor die Midas-aanraking beskik indien so ʼn persoon bykans enigiets in geld kan verander – byvoorbeeld om ʼn eenvoudige besigheid in ʼn suksesvolle onderneming te verander.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Adriaan Theron ·

Is daar ook ‘n uitdrukking vir iemand wat alles wat hy aan raak in “dinges” laat verander?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.