Grasweduwee

Uitdrukking:
Om na iemand as ‘n “grasweduwee” te verwys

Betekenis:
‘n Vrou wie se man tydelik weg is van die huis

Waar kom dit vandaan?
Die uitdrukking het oorspronklik verwys na ʼn ongetroude vrou wat meer as een man intiem onthaal het. Die vermoede is dat dit buite in die gras was, eerder as in die wettige huweliksbed. Maar die eintlike bedoeling was dat sy ʼn kind buite die huwelik gehad het.

ʼn Ander bron verklaar met groot oortuiging dat die uitdrukking oorspronklik uit Brits-Indië gekom het waar die vrouens en kinders gedurende die versengende dae van die somer na die bergstreke toe gestuur is. Daar was dit nie net koeler nie, maar daar was ook gras – en geskei van hulle mans was hulle dus grasweduwees. Na hierdie voorbeeld het daar later natuurlik ook graswewenaars ontstaan.

Uit die VSA het daar ʼn ander verklaring ontstaan: Tydens die goud-stormloop in Kalifornië het die man dikwels vrou en kinders by familie laat loseer terwyl hy gaan goud grawe het. In Amerikaans het dit bekend gestaan as “putting a wife to grass” – ʼn uitdrukking wat eintlik gebruik is vir ʼn perd wat te oud was om te werk. Hierdie tydelike skeiding sou dan van die vrou ʼn grasweduwee maak. Dit is alles gissings.

Die oorspronklike woord wat later grass in Engels geword het, was grace. Die vrou was ʼn grace widow. Dit het verwys na die grace, die grasie of genade wat die vrou van die pous ontvang het om van haar man te skei – ʼn toegewing wat in die vroeë dae slegs deur die Katolieke Kerk toegestaan kon word. Dié verklaring word gestaaf deur die Franse benaming veuve de grâce (dit is genadeweduwee in Frans), en die Latynse viduca de gratia. (Vandag noem die Franse dié soort voëlvrydame ʼn halfweduwee.) Omdat die Franse woord grâce amper soos die Engelse grass klink, was dit voorspelbaar dat die oorspronklike betekenis verlore sou raak.

In Suid-Afrika verwys die media gereeld na die eggenote van professionele rugbyspelers ook as grasweduwees wanneer hul mans vir weke lank op toer weggaan. ʼn Mens kan net bespiegel dat die gras ook natuurlik na die rugbyveld sal verwys.

Klik hier om na ‘n klankgreep te luister waar ons dié uitdrukking bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.