Kersfees

Daar is verskeie woorde in Afrikaans verbind aan dié feesseisoen:

Kersaand – Die aand voor of van van Kersdag (vergelyk Oukersaand).

Kersboodskap – Die blye boodskap van Jesus se geboorte: Die Kersboodskap verkondig. OOK: Toespraak, boodskap deur iemand op Kersdag gelewer, bv. deur ‘n predikant, president, koning: Nuwe hoop laat opvlam deur jou Kersboodskap.

Kersboom – Groen boom of boompie (in ‘n huis, kerk, ens. geplaas), meestal met siersels en met kersies of klein elektriese liggies behang, waaromheen Kersfees gevier word: Presentjies aan die Kersboom hang. Kersliedere om die Kersboom sing.

Kersdag – Dag van die Kersfees: Eerste Kersdag, 25 Desember. Tweede Kersdag, 26 Desember (tans bekend as Welwillendheidsdag.)

Kersfees – Fees op 25 Desember ter herinnering aan die geboorte van Jesus; Kersmis: Kersfees vier. Kersdag: Voor, met, na Kersfees. [Afgelei van Christus].

Kersfonds – Fonds waartoe mense in die Kersgety ter wille van liefdadigheid en die versorging van minderbevoorregtes kan bydra: Elke jaar stel die Kersfonds ‘n sekere mikpunt wat bereik moet word en dié geld word gebruik om Kersfees ook vir arm kinders lekker te maak.

Kersgeskenk – Geskenk, present met Kersmis gegee; Kerspresent: Kersgeskenke uitstuur.

Kerskaartjie, Kersfeeskaartjie – Kaartjie wat voor Kersfees per pos aan vriende ter gelukwensing gestuur word, gewoonlik met Nuwejaarswense daarby: ‘n Kerskaartjie van A ontvang. Al kontak wat ons nog het, is deur gereelde Kerskaartjies.

Kerskindjie – Die kindjie Jesus, met Kersmis gebore. OOK: Kind op Kersfees gebore: Sy was ‘n ou Kerskindjie.

Kerslied – Lied waarvan die woorde op Kersfees betrekking het: Kersliedere op Kersaand sing. Vrolike Kersliedere.

Kersmaand – Desembermaand.

Kersmis – Kersfees: Kersmis vier. Met Kersmis, op, tydens Kersmis. Rooms-Katolieke gebruik: Mis tydens Kersfees: ‘n Kersmis bywoon.

Kersseël – Liefdadigheidseël gekoop om op briewe te plak in die Kerstyd.

Kersvader – (Manlike) persoon wat in ‘n tradisionele mondering van rooi, en met ‘n groot wit baard, gedurende die Kerstyd kinders vermaak en presente aan hulle uitdeel; ook, in enger kring, die (legendariese) persoon wat binne die huiskring sorg dra dat die kinders hul kersgeskenke kry: Kersvader word tradisioneel voorgestel as iemand wat op die sneeu ry met ‘n slee getrek deur rendiere en op Kersaand presente aan kinders besorg. Hoe kom Kersvader deur die skoorsteen?

Kersvakansie – Vakansie omstreeks Kersmis; (skool)-vakansie teen die einde van die jaar.

Kersweek – Week tussen Kersmis en Nuwejaar: Winkelsluiting gedurende die Kersweek.

Kerswens – Heilwens, veral per pos, met Kersfees: Kers- en Nuwejaarswense

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.