Kleuterrympie: Ou Moeder Gans

moeder gans

Deur Leon Rousseau

Ou Moeder Gans
seil snel deur die lug.
Sy sit veilig en breed
op haar gansman se rug.

Haar huis in die bos
word bewaak deur ‘n uil
wat inbrekers weghou
deur hoe-hoe te huil.

Moeder Gans het ‘n seun
hulle noem hom klein Buks.
Hy’s meestal maar lui
maar soms darem fluks.

Na die mark moet hy gaan
om geselskap te koop
vir arme Gansman
wat stokalleen loop.

Gansie en Gansman
word lief vir mekaar.
Hulle swem op die dam
soos ‘n huwelikspaar.

Een oggend vroeg
skrik Buksie hom koud.
In Gansie se nes
lê ‘n eier van goud.

Hy gaan sê vir sy ma
en was sy nie bly nie!
“Nou my seun, sal ons nooit
weer gebrek hoef te ly nie.”

Dié kleuterrympie is gepubliseer in die boek My skatkis van stories en rympies
Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R199-95*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.