Kompetisie: Kinders se oulike Afrikaanse sêgoed

Ons het onlangs op Facebook ‘n kompetisie van stapel gestuur waar lesers hul kinders se oulike sêgoed kan kom publiseer. Die wenner ontvang drie kinderboeke en een boek vir ‘n volwassene!

Ons het soveel oulike antwoorde ontvang, en nou het ons jou hulp nodig om die wenner aan te wys!

Hier is ons kortlys (ons publiseer dit sonder die ouer se naam):

1. Ons het baie gelag toe Etheon (toe so 2,5 jr) een dag vir ons sê hy het ʼn neussnotter (renoster) gesien!
2. By kinderkerk moes almal eenkeer sê waarvoor hulle dankbaar is. Al die kindertjies het die pragtigste antwoorde gegee soos mamma, pappa, ʼn warm bedjie, kossies. Ons seuntjie het dankie gesê vir die Gautrein!
3. Ons seuntjie sukkel om die woord uil te onthou. Nou noem hy dit maar ʼn nagkuiken.
4. Benyael sukkel om wildebeeste te onthou: hy noem hulle wille besems!
5. My laaitie was so drie jaar oud toe hy vir sy ma kom sê: “Mamma, my beenboog is seer.” Kom ons toe agter hy weet al waar sy elmboog is, maar nie die agterkant van sy knie nie.
6. Ons kom by die huis en ons seuntjie (toe 2,5 jaar) sê: “Ons het klaar ʼn padda gery.” Ek vra wat hy bedoel en hy sê “Ons het klaar ʼn eendjie gery.” Ek het gesê ons gaan ʼn entjie ry, hy het verstaan eendjie en toe sommer die padda bygevoeg!
7. My dogter het lang hare gehad wat ek altyd vasgemaak het in ʼn poniestert. Toe sy so 3 was, bid sy een aand in plaas van Jesus maak my hartjie rein, “Jesus maak my haartjies vas.” Haar boetie het die Onse Vader bietjie verkeerd verstaan en bid toe, Laat U wil geskied… met ʼn gun!

Skryf hieronder in die kommentaarblokkie watter een jy dink is die oulikste. Die persoon met die meeste stemme wen!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Mari Scott ·

Ons kom by die huis en ons seuntjie (toe 2,5 jaar) sê: “Ons het klaar ʼn padda gery.” Ek vra wat hy bedoel en hy sê “Ons het klaar ʼn eendjie gery.” Ek het gesê ons gaan ʼn entjie ry, hy het verstaan eendjie en toe sommer die padda bygevoeg!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.