Soorte resepte:

O, koe(k)sister!

Koeksisters (Foto: Lapa-uitgewers)

Ek sê “koeksister”, jy sê “koesister”. Wat is die verskil en waar kom dit vandaan?

Volgens die Etimologiewoordeboek van Afrikaans (EWA) is “koeksuster”, “koesister”, “koeksiester” en “koesiester”, sowel as verouderde woorde soos “koesester” en “kosiester” alles verwant aan die alombekende “koeksister”.

Dié tradisionele soetgebak is ʼn bros lekkerny bestaande uit gevlegte repe koekdeeg wat eers in vet of olie gebraai en daarna warm in ʼn koue, soet stroop gedompel word.

“Koeksister” is waarskynlik ʼn samestelling van koek en sister, met laasgenoemde vervorm uit sisser wat verwys na “iets wat in kokende olie sis”.

Hoewel koeksisters en koesisters albei diepgebraai en dan in ʼn suikerstroop gedoop word, is dit min of meer waar die ooreenkomste eindig.

(Foto: Dail-a-koesister/Facebook)

Koesisters is lig en sag, en is deel van die Kaaps-Maleise tradisie. Dit is ʼn geurige, ovaalvormige oliebol wat diepgebraai en in stroop gegooi word voordat dit met klapper besprinkel word. Die klapper is met speserye soos kaneel, anys, gemmer, kardamom en gedroogde nartjieskil gegeur.

In 2019 is Wêreld-Koesister-dag die eerste keer gevier. Sedertdien word dié dag jaarliks op die eerste Sondag van September gevier.

O, die koe(k)sister is sowaar ʼn wonderlike ding!

Koeksisterresep

Lewer 36 koeksisters

Bestanddele

STROOP

  • 2,5 kg suiker
  • 1,750 liter (7 k) water
  • 5 ml (1 t) kremetart
  • 5 ml (1 t) wynsteensuur

DEEG

  • 750 ml (3 k) koekmeel
  • 10 ml (2 t) bakpoeier
  • knippie sout
  • 25 ml (5 t) Clover Farmstyle-botter
  • 2 eiers
  • 125 ml (½ k) Clover-volroommelk
  • 125 ml (½ k) water
  • 1 liter olie vir diepbraai

Metode

STROOP

  1. Gooi die suiker en water saam in ʼn groot genoeg kastrol. Verhit oor mediumhitte tot die suiker opgelos is. Roer gereeld.
  2. Wanneer die suiker heeltemal opgelos is en goed warm is, kan die kremetart en wynsteen­suur bygeroer word.
  3. Laat kook die stroop vir 7 minute. Roer af en toe.
  4. Haal die kastrol van die stoofplaat af en laat oornag afkoel.

DEEG

  1. Roer die koekmeel, bakpoeier en sout saam in ʼn mengbak.
  2. Vryf die botter by die meel in totdat dit soos broodkrummels lyk.
  3. Klits die eiers, melk en water saam tot goed gemeng.
  4. Roer die melkmengsel by die meelmengsel tot ’n deeg vorm; dit kan nodig wees om bietjie water by die deeg te voeg.
  5. Sprinkel ekstra meel op ’n werksoppervlak en knie die deeg vir 10 minute.
  6. Bedek die deeg met kleefplastiek en laat rus vir 3 uur.
  7. Rol die deeg op ʼn meelbestrooide oppervlak uit tot 5 mm dik.
  8. Sny die deeg in 5 mm dik stroke. Sny die stroke deeg 8 cm lank.
  9. Vou die deegstroke in die helfte en druk die punte bymekaar. Draai die deegstrook sodat dit soos ʼn vlegsel lyk.
  10. Verhit genoeg olie in ʼn swaarboomkastrol tot goed warm.
  11. Braai die koeksisters tot goudbruin in die olie.
  12. Haal die koeksisters uit en plaas net vinnig op kombuispapier om van die oortollige olie te absorbeer.
  13. Doop die koeksisters in die stroop terwyl die koeksisters nog warm is.
  14. Haal die koeksisters uit en plaas op ʼn afkoelrakkie sodat die oortollige stroop kan afdrup.
  15. Bêre die koeksisters in ʼn lugdigte houer wanneer dit goed afgekoel het.

Bron: Etimologiewoordeboek van Afrikaans (EWA), Cape Town Travel, Onthoukos (Lapa Uitgewers)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Brakanjan

Hoe lekker sal so krakerige, stroperige koeksister nou wees!

Johan

Hoe verskil die resep van die Kaap-Maleise weergawe met dié van die resep hierbo?

Pampoen

Koeksisters vries baie goed en mens kan dit selfs direk uit die vrieskas eet. Hy is selfs lekkerder as hy gevries is.