Omstandighede en toestand

Die uitdrukking onder geen omstandighede beteken “glad/hoegenaamd nie” en word gebruik as versterking van ‘n verbod: Onder geen omstandighede mag jy hierdie knoppie druk nie.

In/onder die omstandighede is ‘n uitdrukking met min of meer dieselfde betekenis as soos sake staan, en dit kry nooit ‘n byvoeglike naamwoord nie.

In bepaalde omstandighede slaan op ‘n (leef)toestand en word meestal met ‘n byvoeglike naamwoord of besitlike voornaamwoord gebruik, bv: Mense lewe in haglike omstandighede; en: In my omstandighede is dit die beste ding om te doen. Iets (bv. ‘n huis) is in ‘n goeie, puik of uitstekende toestand of ‘n swak/ellendige/haglike toestand. Dus NOOIT: ‘n huis verkeer in ‘n goeie toestand… nie.

‘n Toestand is gunstig of ongunstig vir byvoorbeeld bakterieë; en “In die huidige ekonomiese toestand of boerderytoestande speel baie mense bankrot. NOOIT: Onder die huidige ekonomiese toestand… nie en NOOIT: Onder die huidige omstandighede… nie.

‘n Pasiënt se toestand is as bevredigend beskryf (eerder as bestempel, wat meestal iets ongunstigs impliseer), of: ‘n Pasiënt is (volgens die hospitaal) bevredigend.

Vee is in ‘n goeie kondisie, maar ‘n motor is in ‘n goeie toestand. Toestand moet nie onnodig aangelas word by woorde soos weer (dus nie weerstoestande) of droogte (dus nie droogtetoestande) nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.