Paddas, paddas, paddas

Paddas in die kerk? So waar as wat padda manel dra

Nouja, ouderlinge van die kerk in Nederland het vroeër jare manelle gedra. ʼn Manel is ʼn deftige mansbaadjie wat tot by die knieë strek. Die ouderlinge het ook bekend gestaan as die “kerkvorsten”. Die uitdrukking was dus: So waar as wat kerkvors manel dra. Omdat die benaming kerkvors in Suid-Afrika mettertyd in onbruik geraak het, het die betekenis daarvan ook vervaag. Op eg volksetimologiese manier is ʼn woord wat naastenby so klink, ingespan om die gesegde te laat herleef. En toe word dit: “So waar as wat kikvors manel dra.” Die woord kikvors vir padda het self in onbruik geraak en word vandag nie eintlik meer gehoor nie, alhoewel dit steeds sy regmatige plek in die woordeboek geniet. Kikvors is dus mettertyd met padda vervang. Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal gee ook die spottende omgekeerde: “So waar as wat kerkvors padda is”… wat duidelik wys dat die kerkvors met kikvors vermeng is!

ʼn Mens kan natuurlik ook lyk soos ʼn opgeblaasde padda – as jy lekker dikbek en kwaad is. Meeste tieners is seker een of ander stadium skuldig hieraan!

Iemand kan ook so skurf wees soos ʼn padda. Of jy kan die onmoontlike aanpak – so goed soos om vere van ʼn padda te probeer pluk.

Het jy ʼn stomp mes in jou laai? Dit word ʼn paddaslagter genoem. Aangesien paddas so ʼn sagte diertjie is, is dit die enigste ding wat met ʼn stomp mes geslag kan word – in teenstelling natuurlik met byvoorbeeld wild of vee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.