C Louis Leipoldt
Wat ek gaan word
Ons kinders praat soms baie
Oor wat ons elk sal wees
Eendag as elkeen groot is –
Ons praat ons amper hees.
Gertruida – sy’s die oudste –
Sê sy gaan later trou
Met die hoofdorpskonstabel
Wat hierlangs toesig hou.
Klein Teuns wil tiers gaan doodskiet –
Sy rekker’s nog sy skat;
En as jy van gevaar praat,
Dan sê hy net: “Ag, wat.”
Johannes word skoolmeester,
Geeneen so fluks soos hy
Om lui seuns met die rottang
Eksamens deur te kry.
Sus Miem – sy kry musiekles
Vyf dae in die week –
Wil met haar stem gaan geld maak
Om in die bank te steek.
Servaas wil net gaan werskaf –
Soos hy vandag al doen –
Met motors en met fietse
Van allerlei fatsoen.
Ek self – ek is die kleinste
En algar noem my Koos –
As ek eers later groot is,
Dan word ek ‘n matroos.
En reis rondom die wêreld
Op ‘n driemasterskip
Na eilande in die Suidsee
Van k’ral in plaas van klip;
Kom huis toe met ‘n lading
Van goud en spesery,
Om daarna op die plaas hier
Skatryk by Ma te bly.