Woord:
kafoefel (werkwoord), het gekafoefel
Betekenis:
Vry: Die nooi kafoefel lekker. Die polisieman is op die spoor van die kafoefelende paartjie (Die Burger).
Waar kom dit vandaan?
Uit Skotse Engels carfuffle.
Woord:
karnuffel (werkwoord) het gekarnuffel
Betekenis:
Speelsgewys afknou, seermaak; geniepsig speel met; terg, pla, bv. deur onder te sit, vas te druk, te stamp, te knyp, te kielie, die hare te trek, ens.: Die ou bobbejane blaf en die kleintjies tjank soos die ouers hul karnuffel (G.R. von Wielligh). Hy geniet dit baie as die meisies hom vang en ‘n bietjie karnuffel oor sy kattekwaad (P.J.L. Odendaal).
Hierdie interessante brokkie is aan Maroela Media se Taaltoffie verskaf deur die Woordeboek van die Afrikaanse Taal.