Woord:
onbesuis (ook soms onbesuisd)
Betekenis:
Wild en woes, of onbesonne, onbeteueld: onbesuisde optrede, onbesuisde woede; Wie het nou weer so onbesuis geraak dat hy sy eie seun se voortande uitgeslaan het? (Huisgenoot, 20 Junie 1985, 141).
Waar kom dit vandaan?
Uit Nederlands onbesuisd. Die woord is saamgestel uit on + besuisd, en besuisd hou verband met die Middelnederlandse werkwoord besusen of besuysen “tot bedaring bring, sus”, en was oorspronklik klanknabootsend gevorm. Onbesuis beteken dan eintlik “nie tot bedaring gebring nie”.
Hierdie interessante brokkie is aan Maroela Media se Taaltoffie verskaf deur die Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Ondersteun gerus hulle Borg ‘n Woord-projek.