Woord:
Vaaltyn (selfstandige naamwoord)
Betekenis:
Donkienaam: Vaaltyn is weer vandag lekker dooierig.
Waar kom dit vandaan?
Vaaltyn is deur volksetimologie vervorm uit Valentinus, ‘n naam vir heiliges. Valentinus is die Latynse verkleiningsvorm van valens wat “sterk, gesond of invloedryk” beteken.
Valentynsdag spruit uit die feesdag van Sint Valentyn wat verbind is aan ‘n Romeinse fees waarop ongetroude vrouens hulle wens om te trou, kon uitspreek. Hulle name is op potskerwe geskryf en in ‘n kruik gegooi waaruit die mans dan vir hulle lootjies getrek het. Die Engelse kerk het eeue later die seremonie afgewater tot die stuur van liefdesbriewe.
Hierdie interessante brokkie is aan Maroela Media se Taaltoffie verskaf deur die Woordeboek van die Afrikaanse Taal.