Woord: adamsappel

Argieffoto (Foto: lumix2004, Pixabay)

Woord:
adamsappel

Betekenis:
van buite sigbare gedeelte van die strottehoof in die vorm van ʼn knobbel wat beweeg as gesluk word

Waar kom dit vandaan?
Hoewel die adamsappel by mans meer sigbaar as by vroue is, het hulle ook een (en deur die genade en moontlike tekort aan Adam se ribbebeen as roustof kleiner en dus minder opmerklik).

Daar is teoloë wat redelik keelvol daarvoor is dat daardie vrug van die Paradys ʼn appel genoem word. Volgens oorlewering het Adam so geskrik toe hy sy sonde besef het, dat ʼn stukkie daarvan in sy keel bly vassteek het. Dié wanopvatting het geen pote om op te staan nie. Genesis 3 praat net van “die vrug” en vermeld nooit iets meer spesifieks nie.

Dit is ernstig te betwyfel of dit ʼn appel kon wees: Mesopotamië was veels te warm vir die kweek daarvan. (Volgens oorlewering was die Paradys in Mesopotamië geleë.)

Watter ander vrugte kwalifiseer vir dié een wat soveel moeilikheid veroorsaak het? Appelkose? Dadels, miskien? Daar word nie gemeld dat die eerste twee mense hulle met palm- of appelblare bedek het nie. Nee, dit was vyeblare, en dit lyk dus na ʼn leidraad, want vye sou daar geaard het.

Aquila van Pontes het in ongeveer 140 n.C. ʼn vertaling van die Ou Testament in Grieks voltooi en daarin skynbaar die appel as die vrug vermeld.

In die Griekse kultuur het die appel gou die simbool van begeerte en wellus geword en van die vertalers ná Aquila het nie weer mooi na die oorspronklike teks gekyk nie. Adam en Eva is ook nie uit die Paradys verban omdat hulle hul aan die boom van die kennis van goed en kwaad vergryp het nie, maar sodat hulle nie van die Boom van die Lewe sou eet nie. Om die waarheid te sê, dié appel is maar net nog een wat nie op Newton se kop geval het nie.

Dié interessante brokkie is gepubliseer in dr. Anton F Prinsloo se boek, Die aap in jou koffie (Afrikaanse eponieme van A tot Z).
Uitgewer: Protea Boekhuis
Prys: R250-00*
*Prys onderhewig aan verandering

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.