Woord: deksteriteit

Argieffoto

Argieffoto

Woord:
deksteriteit

Betekenis:
behendigheid

Waar kom dit vandaan?
Die verwaande regshandiges van die wêreld het hierdie naam aan mense gegee wat handig, behendig is. Die Latynse dextra het “regterhand” beteken.

Wat skaamteloos hiermee saamhang, is die uitdrukking die regte voet voorsit. En die regte voet was vir die ou Romeine natuurlik die regtervoet. Volgens baie ou bygelowe wat deur talle mense van talle volke geglo is, moes enige reis of nuwe onderneming begin word met die regtervoet (dit wil sê “die beste voet vorentoe”). Daar is geglo dat die linkervoet net ongeluk sou bring. As ‘n Romein een oggend per ongeluk sy linkersandaal eerste aangetrek het, sou hy dalk nie die dag oorleef nie. Keiser Augustus het glo gesê dat sy soldate gemuit het omdat hy daardie dag onnadenkend sy linkersandaal eerste aangetrek het.

Trouens, alles wat links was, is as ongelukkig beskou. (Selfs die woord slinks bevat, vir die hele regse wêreld en Jan Rap om te sien, die woord links.)

Iemand wat niks beter gehad het om met sy regterhand te doen as om boeke oor linkshandiges te skryf nie, het bevind dat regterhanders gemiddeld nege jaar langer leef as linkshandiges. En dan volg daar nog hierdie bevooroordeelde stelling: Daar word beraam dat tussen 17 en 25 persent van die mensdom links is – dieselfde geld sjimpansees en gorillas.

Die Engelse woord sinister beteken “links” in die heraldiek, maar ook “evil”.

Ons woord aweregs bestaan uit ave wat “af” beteken en recht “reg”, dus “wat van die regte (weë) af is”, en dus verkeerd.

Dit is eers ná die Middeleeue van die regshandiges (in die laat 20ste eeu) dat kinders toegelaat is om ongehinderd met hulle linkerhande te skryf. Maar dit los nie die probleem op van skêre, kurktrekkers, vismesse, koekvurkies, eierspane, groenteskillers en ander vernuftige apparaatjies wat net vir regterhanders ontwerp is nie. Selfs die onskuldige, omslagtige rekenaarmuis is vir ‘n harige regterklou ontwerp.

Die regtervoet moes ook eerste gebruik word wanneer iemand ‘n huis of ‘n kerk binnegaan. In Engeland is daar ook nog so ‘n bygelofie onder bruide dat hulle met die regtervoet eerste die kerk moet binnestap. Die lieftallige swakkeling wat sy bruidjie oor die drumpel dra, weet nie eers dat hy dit doen omdat die Romeine wou voorkom dat die swakkere vat per ongeluk met haar linkervoet eerste die huis binnnegaan en die huwelik verongeluk nie.

Nieteenstaande dekades se pogings word daar deur die regshandige vuilisse in beheer geen gehoor gegee aan die druk dat 13 Augustus as Internasionale dag vir linkshandiges erken en as openbare vakansiedag gepromulgeer moet word nie.

Dié interessante brokkie is in Anton F. Prinsloo se boek, ‘n Dief aan die kers – skelm woorde deur die eeue gepubliseer.
Uitgewers: Pharos
Prys: R250-00*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.