Woord: gogga

Argieffoto (Foto: Josch13, Pixabay)

Die Afrikaanse woord gogga het sy oorsprong in Khoi. Volgens Gerhard van Wyk se Etimologiewoordeboek van Afrikaans (EWA) word met die oorspronklik Khoiwoord – xo-xo-n – ‘alle kruipende en wriemelende insekte’ aangedui.

In Afrikaans het dié betekenis verder uitgebrei om nie net insekte in te sluit nie, maar ook ander klein diertjies, soos spinnekoppe, skerpioene, en dies meer. Enigiets kleins, wat kruip of sluip, kan in Afrikaans ʼn gogga genoem word, veral as dit vir die waarnemer vreemd, lelik of grieselig voorkom. Vandaar dat ons gogga dikwels as afskrikmiddel inspan: “Gogga maak vir baba bang!”

Maar gogga word nie net negatief gebruik nie. Vir baie mense is gogga ook ʼn troetelnaam, dikwels skertsend en speels gebruik, soos in die volgende voorbeelde: “My kind … My gogga, wat makeer? Hoekom huil jy so?” Of: “ʼn Bottel wyn verder kan ek jou dalk my bekkie, my bokkie, my gogga noem.”

En as die gogga jou eers byt – die reisgogga, skryfgogga, toneelgogga, fietsrygogga, lapverfgogga, fiksheidsgogga, visvanggogga, en so meer – raak ʼn mens dalk so entoesiasties oor die ding dat jy heeltemal meegevoer raak!

Bron: Die tale wat ons praat – taaldinge uit die gewilde radioprogram
Uitgewer: Penguin Random House
Prys: R230,00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

IK ·

Dan is daar die kewergogga op ons geldstukke wat die waarde van die Rand opvreet.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.