Woord: Grasweduwee

Woord:
Grasweduwee

Betekenis:
‘n Vrou wie se man tydelik weg is.

Waar kom dit vandaan?
Dié uitdrukking het oorspronklik verwys na ʼn ongetroude vrou wat meer as een man intiem onthaal. Die vermoede is dat dit buite in die gras was, eerder as in die wettige huweliksbed. Maar die eintlike bedoeling was dat sy ʼn kind buite die huwelik gehad het. ʼn Ander bron verklaar met groot oortuiging dat die uitdrukking oorspronklik uit Brits-Indië gekom het waar die vrouens en kinders gedurende die versengende dae van die somer na die bergstreke toe gestuur is. Daar was dit nie net koeler nie, maar daar was ook gras – geskei van hulle mans was hulle dus grasweduwees. Na hierdie voorbeeld het daar ook later graswewenaars ontstaan.

Uit die VSA het daar ʼn ander verklaring ontstaan: Tydens die goudstormloop in Kalifornië het die man dikwels vrou en kinders by familie laat loseer terwyl hy gaan goud grawe het. In Amerikaans het dit bekend gestaan as “putting a wife to grass” – ʼn uitdrukking wat eintlik gebruik is vir ʼn perd wat te oud was om te werk. Hierdie tydelike skeiding sou dan van die vrou ʼn grasweduwee maak. Dit is alles gissings. Die oorspronklike woord wat later grass in Engels geword het, was grace. Die vrou was ʼn grace widow. Dit het verwys na die grace, die grasie of genade wat die vrou van die pous ontvang het om haar man te skei – ʼn toegewing wat in die vroeë dae slegs deur die Katolieke Kerk toegestaan kon word. Dié verklaring word gestaaf deur die Franse benaming veuve de grâce (genadeweduwee), en die Latynse viduca de gratia. (Vandag noem die Franse dié soort voëlvrydame ʼn halfweduwee). Omdat die Franse woord grâce amper soos die Engels grass klink, was dit voorspelbaar dat die oorspronklike betekenis verlore sou raak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.