Soorte resepte:

Woord: hertzoggies, smutsies, tweegevreetjies

Hertzoggies, smutsies en tweegevreetjies (Foto: Koekedoor/kykNET)

ʼn Hertzoggie is ʼn soort koekie. ʼn Hertzoggie bestaan uit ʼn tertdoppie wat met appelkooskonfyt gevul is en bo-op met klappermeringue versier is.  Die naam hertzoggie is afgelei van die eienaar Hertzog. Hertzoggies is genoem na generaal JBM Hertzog, wat van 1860 tot 1942 geleef het, en wat van 1924 tot 1939 eerste minister van die Unie van Suid-Afrika was.

Generaal Hertzog was ʼn direkte opponent van generaal JC Smuts (1870 – 1950), wat ook eerste minister van die Unie was; van 1919 tot 1924, en weer van 1939 tot 1948. Die vroue wat vir Smuts ondersteun het, bak toe vir hom ʼn ander koekie, naamlik ʼn smutsie. Smutsies is soortgelyk aan hertzoggies, ook met ʼn appelkooskonfytvulsel, maar in plaas van die klapper-eierwitbolaag, kry smutsies tot ʼn deegbolagie.

In sommige kookboeke word beweer dat smutsies eerste gebak is, deur die Smuts-ondersteuners van die Suid-Afrikaanse Party, die Sappe, en dat die tantes wat Hertzog-ondersteuners was, die Natte van die Nasionale Party, eers daarna hulle hertzoggies geskep het.

In die Kaap, so word daar vertel, het die Moesliemvroue van die Bo-Kaap vir Hertzog met die hertzoggie vereer toe hy as eersteministerskandidaat aan hulle stemreg beloof het. Toe Hertzog sy belofte verbreek en dit nie gebeur nie, het hulle die hertzoggie onder hande geneem en dit in ʼn proteskoekie omskep. Die een helfte van die tertdoppie het hulle met appelkooskonfyt gevul en die ander helfte met klappermeringue. Die twee helftes van dié koekie het hulle ook verskillend versier. Die een helfte het hulle met ligpienk versiersuiker bedek, en die ander helfte bruin ingekleur. Dié skepping het hulle ʼn tweegevreetjie genoem, of soos ʼn mens in Kaaps sal sê: ʼn “tweegevrietjie”. Dus ʼn ander woord vir ʼn tweegesig – iemand wat huigel, wat hom of haar in verskillende omstandighede verskillend voordoen; ʼn kuller, ʼn bedrieër, ʼn valsaard, ʼn leuenaar.

En as jy nou nier meer jou lus kan bedwing nie, hier is ‘n resep vir Hertzoggies

Bron: Die tale wat ons praat – taaldinge uit die gewilde radioprogram
Uitgewer: Penguin Random House
Prys: R230,00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Ekke ·

Goeie more…
Wat beteken moesliem asb? Is dit dieselfde as moslem?

Hans ·

Hier gaan-ons-alweer, dalk ‘n doodgewone menslike fout? Ten minste is daar nie geweld, rowery en bestelery betrokke nie – ek het dit geniet!

Mariné Lourens ·

Dagsê Hans

Baie dankie vir jou kommentaar. “Moesliem” is egter nie ‘n fout nie. Volgens die verklarende handwoordeboek van die Afrikaanse taal (HAT) is Moesliem (s.nw.) ‘n aanhanger van Islam; Islamiet – ook Moslem.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

Mariné Lourens ·

Dagsê Ekke

Dankie vir jou kommentaar. Volgens die verklarende handwoordeboek van die Afrikaanse taal (HAT) is Moesliem (s.nw.) ‘n aanhanger van Islam; Islamiet – ook Moslem.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

Ekke ·

Hans ek verstaan nie jou opmerking nie.
Ek het dit ook vrek baie geniet, dit is sooo interesant.
Ek is nie snaaks nie ek weet nie wat dit is nie en daarom vra ek, ek wonder dus steeds wat dit beteken.

Ekke ·

Hans ek verstaan nie jou kommentaar nie.
Ek is nie sarkasties of snaaks nie, ek vra ‘n vraag, waarvoor ek steeds nie die antwoord ken nie.
Dit is ‘n interessante stuk wat ek soo geniet het… wil net graag die hele prentjie verstaan.
Mooi loop

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.