Woord: japsnoet

Argieffoto

Woord:
japsnoet

Betekenis:
1 Voorbarige jong wysneus wat hom graag met sy meerderes se sake bemoei; indringerige, bemoeisieke snip, jong bog wat sy neus in sake steek waaroor hy nie kan saampraat nie; [snipperige] snuiter wie se mening, oordeel, standpunt, optrede, ensovoorts nie veel aandag verdien nie: ʼn Regte japsnoet. Stil, wat weet ʼn japsnoet soos jy van landsake! ≈ En toe, jou klein japsnoet — wat het jy hier miskien te sê? (Minnie Postma).  Jou pa is ʼn man met selfrespek, wat hom nie deur sommerso enige japsnoet laat rondorder nie (Marie Linde).  ʼn Japsnoet van ʼn dogter (Jochem van Bruggen).  Die ou lê te lekker om hom aan die jaapsnoetjie te steur (G.C. en S.B. Hobson).  Ek laat my nie van elke japsnoet beledig nie (S. de Kock).  Hulle moet vinnig inklim want die kondukteur, verwaande jong japsnoet, is haastig met sy klokkie (A.P. Brink).
2 Geringskattende, ook minagtende, soms liefkosende benaming vir ʼn persoon van enige ouderdom; soms ook, by uitbreiding, ten opsigte van diere gebruik; asjas, bog: ‘En nou, japsnoet,’ sê ek aan die boer, ‘vat jouw geld daar, en pas op vir jou as jij Giocanto Castriconi weer verdink van ʼn lae daad, hoor!’ (J.F.E. Celliers, vertaler).  Hy moet op die slee ry om die hondjie vas te hou; Goeran het verduidelik: “Die klein japsnoet het my deurnat gemaak” (A. Crafford, vertaler).

Waar kom dit vandaan?
Die herkoms van “japsnoet” is nie duidelik nie. Volgens Franken (1953a: 19) kom dit uit Nederlands, gewestelik in Oos-Fries in die vorm jâp-snute en in Gronings in die vorm flapsnoete, ʼn ‘skeldnaam vir ʼn meisie wat klik’. Boshoff-Nienaber (1967: 303) wys daarop dat jap- moontlik deur klanknabootsing uit die Engelse yap, wat ‘klets’ beteken, gevorm is. Hulle verwerp Malherbe (s.j.: 220) se verklaring dat jap- ‘n verkorting is van die eienaam Jaap wat minagtend gebruik word. Dié opvatting kan egter die wisselvorm jaapsnoet verklaar.

Bronne: WAT en Etimologiewoordeboek van Afrikaans (EWA)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.