Woord: kiekie

Argieffoto (Foto: jarmoluk, Pixabay)

Woord:
kiekie

Betekenis:
foto

Waar kom dit vandaan?

Genoem na ‘n Nederlandse fotograaf, Israël David Kiek (1811 – 1899). Sy van het in Nederland sinoniem geword met ‘n pretensielose foto, die kiekie.

Hy het in 1858 sy ateljee (en sy vrou en nege kinders) tussen die stasie en die beroemde universiteit in Leiden ingerig en vir veral sy groepfoto’s van studente bekend geword. Dit kon eintlik nie anders nie: Hy het die ekonomiese aanbod van drie albumportrette vir een gulde op hulle gemik. Die onderwerp van hierdie foto’s was dikwels ‘n klomp steierende, blink gedrinkte studente wat hom laatnag of self vroegoggend opgeklop het om ‘n rekord van ‘n prettige aand se gefuif te maak. Die kiekies is natuurlik redelik haastig gemaak, want die ou man het nie van die studentepret gehou nie en wou terug bed toe.

Hy het ook sy rug op die groep gedraai terwyl hy die tydopname bereken het. Dit het gemaak dat ‘n student miskien 50 van die 100 tellings sy kop op een skouer en dan die laaste 50 op die ander skouer laat rus het sodat die foto gewys het dat hy twee koppe het. Maar hy was ‘n geduldige sakeman en het selfs eenkeer toegelaat dat studente vir ‘n kiekie op die dak van sy ateljee klim.

Kiek se van is nie net in die eponiem kiekie verewig nie. ‘n Monument vir hom is in 1990 opgerig, ‘n straat in Amsterdam is in 2004 na hom genoem en so ook asteroïed nommer 17521 in 1993.

Dié interessante brokkie is gepubliseer in dr. Anton F Prinsloo se boek, Die aap in jou koffie (Afrikaanse eponieme van A tot Z).
Uitgewer: Protea Boekhuis
Prys: R250-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.