Woord: kiekie

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Roman Kraft/Unsplash.)

Woord:
kiekie

Betekenis:
Kleinerige foto, gewoonlik deur ʼn amateur met ʼn handkamera geneem.

Waar kom dit vandaan?
Volgens die Etimologiewoordeboek van Afrikaans (EWA) is die woord “kiekie” ʼn afleiding met -ie van kiek, die van van die Leidse Joodse fotograaf, Israël David Kiek (1811 – 1899), wat veral studentefoto’s geneem het.

Anton Prinsloo skryf in sy boek Die aap in jou koffie dat Kiek in 1858 sy ateljee (en sy vrou en nege kinders) tussen die stasie en die beroemde universiteit in Leiden ingerig en vir veral sy groepfoto’s van studente bekend geword. Dit kon eintlik nie anders nie: Hy het die ekonomiese aanbod van drie albumportrette vir een gulde op hulle gemik. Die onderwerp van hierdie foto’s was dikwels ʼn klomp steierende, blink gedrinkte studente wat hom laatnag of self vroegoggend opgeklop het om ʼn rekord van ʼn prettige aand se gefuif te maak. Die kiekies is natuurlik redelik haastig gemaak, want die ou man het nie van die studentepret gehou nie en wou terug bed toe.

Hy het ook sy rug op die groep gedraai terwyl hy die tydopname bereken het. Dit het gemaak dat ʼn student miskien 50 van die 100 tellings sy kop op een skouer en dan die laaste 50 op die ander skouer laat rus het sodat die foto gewys het dat hy twee koppe het. Maar hy was ʼn geduldige sakeman en het selfs eenkeer toegelaat dat studente vir ʼn kiekie op die dak van sy ateljee klim.

Kiek se van is nie net in die eponiem kiekie verewig nie. ʼn Monument vir hom is in 1990 opgerig, Kiekstraat in Amsterdam dra sedert 2004 sy naam en die Belgiese sterrekundige Eric Walter Elst het in 1993 die asteroïed 17521 na Kiek vernoem.

Bron: Etimologiewoordeboek van Afrikaans (EWA), Die aap in jou koffie, Wikipedia

  • Ter wille van die konteks van hierdie taaltoffie en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie taaltoffie op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.