Woord: kolwyntjie

Argieffoto (Foto: StockSnap/Pixabay)

Woord:
kolwyntjie

Betekenis:
soort ronde koekie in ʼn vormpie gebak en op verskillende maniere versier

Waar kom dit vandaan?
Genoem na een van twee figure in die geskiedenis – een wat werklik geleef het en een ʼn verhoogrol van die 14de eeu.

Die naam van die gebak is moontlik as verbrouing genoem na Sint Colombino (Giovanni Colombini, c. 1304-1367), ʼn ryk handelaar van Siena in Italië wat die Gesuati, ʼn broederskap van bedelmonnike, gestig het. Die koekie sou dan op sy “naamdag” gebak gewees het. Volgens alle berigte het hy die verstommende, effens teleurstellende, onderskeiding dat hy tydens die hele duur van sy huwelik kuis gebly het.

In teenstelling hiermee is die tweede moontlikheid, naamlik Colombina, ʼn karakter in die Commedia dell’Arte. Nieteenstaande haar naam wat “klein duifie” beteken, is sy ʼn rampante koekoek – sy is Harlekyn se minnares en die eggenote van Pierrot. In die een hand klem sy een van hulle se hand vas, terwyl sy met die ander ʼn tamboeryn gebruik om die felle erotiese aanslae van Pantalone, ʼn hittige ou handelaar met net een voorneme in sy kop, af te weer deur hom op ʼn laer plek te probeer moker. Die oormaat grimering om haar oë kon moontlik aanleiding gegee het tot die soms dekadente versiering op die kolwyntjie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.