Woord:
krokodil
Betekenis:
reptiel wat na ʼn reusagtige, gepantserde akkedis lyk en gewoonlik langs water in die son lê en bak
Waar kom dit vandaan?
Dit mag alles baie vernaam klink, maar die Griekse geskiedskrywer van die 5de eeu v.C., Herodotus, het dié naam vanweë sy oënskynlike luiheid aan die dier gegee met die betekenis “klipwurm” (Grieks kroke “klippe” + drilos “wurm”).
Tog was dit nie te verag nie: die Egiptenare het dit aanbid omdat dit die enigste dier oënskynlik sonder ʼn tong is en dus nie spraak of ander klank nodig het nie. Nie alle Grieke het die monster mooi beskou nie (van nader was soos vandag buite die kwessie): die vierde-eeuse Achilles Tatius het verkondig dat die ding net soveel tande het as wat daar dae in die jaar is.
Dié taalbrokkie is oorspronklik gepubliseer in dr Anton Prinsloo se boek, ‘n Dief aan die Kers – skelm woorde deur die eeue (uitgegee deur NB Uitgewers)