Woord: log

Foto ter illustrasie. (Foto: Pixabay)

Woord:
log

Betekenis:
1a
 Wat uitermate groot of swaar is en moeilik of stadig beweeg, of wat daarvan getuig: ʼn Logge dierasie, gestalte, gevaarte, lyf. ≈ Waar Brutus ‘n kolossale, logge dier was, het ons hier ʼn kleiner dier met perfekte eweredigheid (E. Leroux: Azazel, 1964, 83). • ʼn Groot man… groter as die meeste, sy skouers breed…; nie log nie, maar kragtig en lenig, met hande wat ʼn dier se nek kan breek (F.A. Venter: Ciréne 1957, 10).
■ Ook byw.: Sy ma skuif log reg met die trekklavier op haar skoot (P.J. Haasbroek: Roofvis, 1975, 73).
■ Ook selfst.: Piet roep iets wat die diere (drie boerboele) ʼn breukdeel van ʼn sekonde laat inhou… maar een logge… kom knaend terug om haar te besnuffel (W. Stockenström: Rekwisiete, 1987, 19).
■ Selde onverboë in attr. posisie: Tussen die dansendes lê party voos gesuipte liggame en snork… Hy stoot deur die spu… buk soms laag af oor log figure wat onder komberse of in slaapsakke lê (A.P. Brink: Miskien, 1967, 130).
■ Dikw. ook van sake, meermale abstraksies, wat gew. onder bep. omstandighede of vanuit ʼn bep. beskouing die eienskappe besit soos hierbo omskryf: Hy (seil) met die wolke saam / maklik, soos ʼn veer so lig / of hy die logge grond verag (U. Krige in P.J. Nienaber: Verh. Verse, 1948, 204).
■ Ook fig.: Sy lyfie, onbehoue lomp, / op logge suile van sy beentjies, / sy voetjies aardgebonde plomp (S.J. Pretorius: Smartlap, 1981, 44). ■ Selde onverboë in attr. posisie: Die punt / waar een die ander aantref en herken /… om die hele log verlede af te wen (E. Eybers: Einder, 1977, 17).
b Sonder intellektuele of geestelike beweeglikheid of vlugheid of sonder tempering deur die intellek of gees: Die gode verwonder hulle oor die boerse maniere en logge selfvoldaanheid van hul domme gas (S.J. du Toit: Noorderlig3, 1947, 99).
■ Selde onverboë in attr. posisie: Die nag, die laster en gelag /… o log en donker, bot verdriet / waaroor hulle opskuim, singend breek … (N.P. v. W. Louw: Gestaltes4, 1958, 14).
2 Wat groot, swaar en moeilik hanteerbaar of beweegbaar is: ʼn Logge boot, wa. ≈ Dit het sweet gekos om die lang, logge vlot myle ver te roei en toe te maneuvreer tot in die posisie wat Kuyper verlang het (K. Kielblock: Lafras, 1965, 109).
■ Ook byw.: Hy… wag… vir die trok wat log aan die gang gekom het om verby te ry (J. Miles: Blaaskans, 1983, 248).
3 Wat groot, onhanteerbaar en onbevoeg of ondoeltreffend is: ʼn Logge organisasie. ≈ Dit (is) ʼn tydsame en ingewikkelde proses… om ʼn logge instansie soos die staatsdiens van oortollige gewig te laat ontslae raak (Oost., 10 Des. 1979, 3).

Hierdie interessante brokkie verskyn in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT). Ondersteun gerus hulle Borg ʼn Woord-projek.

  • Ter wille van die konteks van hierdie taaltoffie en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie taaltoffie op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

E ·

Ek wonder net oor die herkoms van die woord. Ek het baaaie lanklaas daardie woord gebruik of aan gedink. Dink meeste van vandag se kinders sal dit nie ken nie. Ek dink vir myself dat die woord aan engels herinner: “Log” wat ‘n groot stuk boomstomp is. Dit is tog ook swaar en moeilik om te beweeg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.