Woord: marskramer

Argieffoto (Foto: Wolf1950/Pixabay)

Woord:
marskramer (verouderd)

Betekenis:
smous, bondeldraer

Iemand wat van huis tot huis of plek tot plek gaan om sy ware, vroeër in ‘n mars (rugmandjie) vervoer, te verkoop, dikwels deur dit op luidrugtige wyse te adverteer; ook soms, iemand wat ware op ‘n vaste plek, dikwels op ‘n mark en (of) vanuit ‘n kraampie, verkoop; tans gewoonlik sinoniem met kramer (ongewoon): Marskramer wat … van boereplaas tot boereplaas te voet of met ‘n pakesel of met ‘n donkiekarretjie sy kramery te koop rondpiekel (A. Coetzee in TL, Oktober 1959, 2). ‘n Venter of marskramer sal … (‘n permit) moet kry om buite ‘n … woongebied te smous (Burger, 19 Maart 1964, 10). Baie klagtes van winkeliers kom … in dat marskramers ‘n vaste staanplek inneem net voor hul winkels, met die gevolg dat ‘n deel van hul besigheid verlore gaan (Burger, 22 April 1929, 9). Dit is markdag, en die smal straatjies … is vol marskramers (K. Schoeman: Fakkellig, 1966, 42). Toe hoor ek … die skree van die marskramer: “Moerbeie vir u gal!” (A.H. de Vries, vertaling: Uil, 1965, 76). Sit en koggel soos marskramers: Groot afslag vandag here en dames (B. Breytenbach: Vlieg, 1971, 49).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Cherokee ·

My vraag gaan in ‘n heel ander rigting. Is dit dubbel of dubbeld en negentien of neëntien? Waarskynlik is albei deel van die woordeskat, maar beide laasgnoemdes klink minder lekker.

Geronimo ·

Dubbeld en neëntien is “pidgin” Afrikaans, gepraat deur minder gesofistikeerde sprekers.
As Sophia ons kommentaar lees is ons albei (nie beide) in groot moeilikheid.

Ierseboer ·

Dit is die eerstekeer in my 67 jarige leeftyd dat ek van hierdie woord hoor, sien of lees. Ek het Afrikaans van moedersskoot geleer. Ek het nog baie om te lees. Wonder of daar ʼn biblioteek in die hemel is.

Jack ·

Ek het dit nageslaan in my Kritzinger/Steyn skoolwoordeboek, gedruk in 1938. Die Engels is pedlar of hawker. Dit is nie werklik so verouder nie, ek het dit tot so onlangs as die middel negentigs in verskeie ordonnansies opgemerk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.