Woord: minsaam

Argieffoto

Woord:
minsaam

Betekenis:
Vriendelik/beminlik in die omgang; innemend; welwillend: ’n minsame geaardheid • iemand minsaam ontvang • minsaam saam lewe.

As byvoeglike naamwoord: minsame; minsamer, minsaamste. Wat beminlik, innemend, vriendelik of aangenaam is; sin. minlik‘n Minsame mens. Minsame omgang.≈ Langenhoven was nooit kwaad nie, inteendeel, hy het ‘n baie minsame persoonlikheid gehad (I.W. v. Tonder in J.P. Scannell: Keeromstr. 1965, 113). Dink jy nie dat die minsame oomblikkies, die persoonlike gesprekkies … ook van belang is nie? (E. Leroux: Silbersteins, 1962, 41). Die mense is hier nie minsamer as daar, gewis / nie toleranter (E. Eybers: Dryfsand, 1985, 28). Hulle vurige liefde het mettertyd in ‘n soliede gehegtheid oorgeslaan: minsaam, maar verbeeldingloos (Huisg., 11 Jan. 1963, 53).

As bywoord: Louis glimlag en stap na Sharon wat na die vuur staan en kyk en trek haar minsaam terug. “Nie te naby nie, anders doen jy ‘n verkoue op …” (Sarie, 2 Sept. 1964, 49). Daar (sal) nie ‘n man … wees wat … as hy weet hoe om wyslik en minsaam te werk te gaan, op die einde nie alles … sal verkry van wat hy vra nie (A.A.F. Teurlinckx, vert.: Renaissance, 1967, 73).

Vergelyk ook:
minlik(verouderend)
aanvallig; lieflik; vriendelik; beminlik: haar minlike gelaat • jou minlik gedra • Hulle behandel hulle dogter minlik. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae